Vandag kyk ons bietjie na die konsep van sluiterspoed. Julle sal onthou dat ek verlede keer vertel het hoe die lig wat ‘n kamera inlaat amper werk soos ‘n yskasdeur wat mens oopmaak. Hoeveel koue by die yskas sal uitkom, sal afhang van hoe groot die yskasdeur oop is, hoe lank dit oop bly, en hoe koud die yskas gestel is.

Verlede keer het ons gesels oor die feit dat lensopening vergelyk word met hoe groot die deur oop is. Ons het ook gesels daaroor dat ‘n groot lensopening (‘n kleiner getal) minder diepte van veld meebring, en dat ‘n klein lensopening, ons praat soms van ‘n F-stop, weer meer diepte van veld tot gevolg sal hê. Julle sal ook onthou dat om kreatief met die lensopening te werk, mens jou kamera verstel na die “A” verstelling wat staan vir Aperture Prioriteit.

Nou op dieselfde draaiknoppie waar jy die A kry, sal jy sien is daar ‘n S knoppie, waarmee jy die kamera se sluiterspoed kan verstel. Op sekere kameras word dit aangedui met ‘n Tv knoppie. Jy het seker al geraai wat hierdie knoppie in terme van die yskas-voorbeeld beteken. Ja, jy is doodreg! Hoe langer die sluiter oopbly, hoe meer lig kan jou kamera se sensor tref, en dus kan jy ook hiermee kreatief speel.

Nou voor ons te veel oor sluiterspoed praat, onthou dat jy jou kamera baie moeilik gaan stil hou wanneer jy op ‘n sluiterspoed van minder as 1/60 van ‘n sekonde werk. So, waarom bied die kamera jou dan die opsie om met stadiger sluiterspoed te werk? Wel, dis hier waar jy werklik kan kreatief raak deur met ‘n stadige sluiter beweging na te boots, of selfs weerlig af te neem. En dit is waar julle in die volgende paar lesse sommer lekker gaan eksperimenteer.

Nou voor ons met praktiese speletjies gaan begin, daar is ‘n paar goed wat krities belangrik is – jy moet verstaan dat, wanneer jy jou kamera in Sluiter prioriteit plaas (S of Av) dit ‘n duidelike effek op die beligting van jou foto gaan hê. As die sluiter te stadig is, gaan die foto te helder wees, en as dit te vinnig is, gaan die foto dof, of dan onderbelig wees. Gewoonlik neem ons foto’s op ‘n redelike helder dag so tussen 1/125ste en 1/250ste van ‘n sekonde, maar dit wissel baie as mens in ag neem wat jy wil doen.

Onthou ook dat jou sluiterspoedprioriteit ‘n impak op jou lensopening gaan hê, want jou kamera gaan probeer kompenseer. As jou sluiterspoed dus te vinnig is, gaan die lensopening groter gemaak word om meer lig in te laat, en ja, reg geraai, as die sluiterspoed te stadig is, gaan jou kamera probeer kompenseer met ‘n kleiner lensopening.

Vir sommige van julle klink hierdie dalk effe verwarrend, maar speel gerus rond en kyk wat jy regkry!

Views: 458

© 2017   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html