Beoordelaarterugvoer oor troufotografie portefeuljes

Ek is onlangs gevra om 'n "Troufotograaf van die jaar" kompetisie te beoordeel. Wat my verstom het was die fotograwe wat deelgeneem het se onvermoe om goeie foto's in hulle "portfolio's" vir beoordeling te plaas. Daar was by die meeste van die deelnemers redelike foto's, maar dis asof hulle dit afgejaag het. Het jy vandag 'n portfolio van jou 10 of 20 beste foto's wat jou kwaliteite as fotograaf vir mense wys?

Ek deel graag my terugvoer aan die deelnemers. Dit klink dalk streng, maar ek belowe dit was nie - ek was meer bekommerd as wat ek streng was :-)

Terugvoer oor troufotografie portfolio’s:

Na aanleiding van die portfolio’s wat ons moes beoordeel, gee ons graag die volgende terugvoer:

Dit is baie jammer dat die fotograwe nie hulle beste foto’s vir die portfolio’s selekteer het nie. Dit is waarskynlik haastig gedoen as gevolg van die feit dat mens tydsdruk gehad het vir die kompetisie se doeleindes, maar mens veronderstel tog dat elke fotograaf iewers ‘n groep van hulle heel beste foto’s sou hou. Die beoordeelaars glo dat elkeen van hierdie fotograwe tot die samestelling van ‘n beter portfolio in staat is. Jammer om so negatief te begin, maar dit was die siening van al die beoordeelaars.

Wanneer mens ‘n portfolio van jou foto’s saamstel moet mens ook wys dat jy ‘n verskeidenheid foto’s kan neem. Veral met troues kan jy jou nabyskote, portrette, “verslaggewing-“foto’s en storiefoto’s vertoon ten einde te wys dat jy in al die fassette jou kamera se verstellings en die moontlikhede van beligting verstaan.

Wees uiters versigtig vir oormatige gebruik van Photoshop. Subtiele en byna onsigbare “vignette” is aanvaarbaar, maar oordadige gebruik daarvan maak dat die vignette steurend raak eerder as om ‘n bydrae tot die foto te lewer. Ander foto’s het versagtende effekte op die bruidspaar wat steurend is. Prosessering is in orde, maar mens sal graag wil sien dat fotograwe op hierdie vlak foto’s kan neem wat goed lyk met basiese prosessering (sharpening, levels ens) eerder as kleurverwerking en Photoshop ingryping.

Sommige van die foto’s het duidelike probleme. ‘n Tak wat uit die agtergrond lyk asof dit uit die bruid se kop groei, perde wat oorbelig is met die bruidspaar in die skaduwee sonder ekstra beligting om die aandag op hulle te vestig ens. Maak seker dat jy jou kamera se verstellings goed genoeg ken om in alle omstandighede die beste foto’s te kan neem. Dit is die bruidspaar se grootste dag. Jy is dit aan hulle verskuldig om tegnies vaardig te wees met jou kamera. Onthou, enige iemand kan redelike goeie foto’s op “AUTO” skiet, maar wat doen jy om jou foto’s te laat uitstaan in terme van kwaliteit.

Jy moet jouself leer om jou beste foto’s te selekteer. Werk kliphard aan jou oordeelsvermoë, dit is deel van jou pakket. ‘n Klomp gemiddelde foto’s maak nie soveel indruk soos ‘n paar uitnemende foto’s nie.

Verstaan hoe om met beligting te werk. Veral om die flits (ligte) van die kamera af te haal en die lig te vorm dat dit die beste vir die omstandighede is.

Ons wil baie graag positiewe terugvoer gee, maar ongelukkig is die aard van die portfolio’s nie so dat dit uitstaan as uitnemend nie. Miskien is die grootste prys wat ons vir al die fotograwe kan gee eerlike kommentaar op hulle werk. Ons hoop werklik dat julle dit wat ons noem ter harte neem. Dis uiters noodsaaklik om deurlopend te verbeter. Sonder eerlike kommentaar is dit onmoontlik.

Sterkte vir die toekoms.


Igno van Niekerk

Views: 142

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Corne Lourens on November 4, 2012 at 3:06pm

Dankie vir jou inligting ek dink dit het betrekking op al die ander mense ook wat nie troufotograwe is nie.  Ek het baie baat gevind deur hierdie atrikel te lees.

Comment by Susan on October 30, 2012 at 1:31pm

Igno, is dit nie snaaks dat die mense met die minste ervaring of kennins die duurste "pro" fotograwe is nie. Ek het dit al menig male beleef en gesien hier by ons.  Ek is soooo bly dat julle besluit het om die waarheid te skryf in julle verslag en nie net stil gebly het nie.  Sal graag wil weet wat het die kompetisie kommetee van jou verslag gesê indien hulle ooit iets gesê het.

© 2019   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html