Hallo Fotoskolers!

Ek dink baie van ons ken al die basiese reels van fotografie (die derdes, die eenvoud, die balans ens). Tog, een van die goed waaraan ons min aandag gee is die "bewerking" van die foto terwyl dit geneem word. Die eerste reel is toerusting! Dit was so 'n lekker lui naweek dat ek nie eers daaraan gedink het om my kamera saam te dra toe my suster se seun ons help om die kano af te dra spruit toe nie. Bewerking van foto's begin met die toerusting, jy "bewerk" 'n foto moeilik sonder 'n kamera.

Dus, toe die geleentheid hom voordoen om Nefie en sy hond op die kano vas te vang, was dit 'n lang ent se terugstap huiswaarts. Natuurlik was dit tydens my terugkeer die slegste tyd van die dag met die helderste moontlike son wat neerbak op ons - tog, daar was geen keuse nie. Die eerste gedagte was om die sluiterspoed so hoog moontlik te kry ten einde die foto relatief donker te hou en nie te laat uitwas nie. Tog, dit is nie oor die tegniese verstellings of die toerusting wat ek wil gesels nie - dis oor "bewerking."

Bewerking is die aanhoudende probeerslag om dieselfde foto te probeer verbeter. Die foto bo was my eerste poging, maar dit is bietjie moeilik om die hondjie te onderskei, ek het ook gewonder oor wat om te doen met die spaan wat dwars agter die hond deur loop. Maar hoe kry mens die spaan natuurlik en die hondjie meer duidelik...en dan is Nefie dalk ook te ver links in die foto...

Ag tog, selfs met die spaan dwars werk dit nie - nou kom die spaan regtig dwarsdeur hond se kind se kop, daar is bietjie meer aksie in die water wat van die spaan drup, maar let op die skaduwee links op Nefie se gesig. Ek sou graag meer van sy gesig wil sien. Dus, ek bewerk die foto, duidelik gaan hierdie posisie van die spaan nie werk nie. Ek probeer ook die hele tyd die weerkaatsing in die water so effektief as moontlik hou. Nefie se postuur is ook te ongemaklik onnatuurlik.

Hier is die spaan byna horisontaal, maar daar is nou geen aksie in die water nie, en Hond se Kjint lyk asof hy op die spaan ge-spitbraai kan word. Iets wat ook besig is om te gebeur is dat hulle te na aan die middel van die foto kom. Ek soek bietjie ruimte vir hulle om "in/heen" te roei.

Nou ja, teen hierdie tyd besef ek dat die dwars spaan die beste gaan werk. Steeds is Nefie se gesig in die skaduwee terwyl Brak se kind haar bes doen om 'n top-model te wees.

Aha, lekker water wat drup vanaf die spaan - maar nou kyk Brak se kind alweer anderpad. Ek besef al meer wat ek nodig het - aksie op die spaan, aandag vanaf die Brak en beter lig op Nefie. Of ek alles gaan regkry weet ek nie, maar soos wat die foto's geneem word begin die prentjie van die moontlikheid  van die foto ook beter by my posvat...

So, wat daarvan as ons al die komponente beter kan laat saamwerk?

Sover het ons geleer dat mens die foto BOU en BEWERK, dalk kan ek nie al die elemente laat saamwerk nie, maar deur probleme te elimineer en geleenthede te probeer sien, bou mens geleidelik aan die foto wat die beste kan werk...

Ek vertel in die volgende blog verder en deel meer foto's uit hierdie sessie.

Moet nooit net die foto neem nie - BEWERK jou komposisie, jou interaksie en die gebeure wat voor jou plaasvind.

Views: 214

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

© 2018   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html