Een van my gunsteling opleidingsvideo’s is Dewitt Jones se “Celebrate what’s right with the world.” Jones was vir jare ‘n fotograaf by National Geographic, en ten spyte van die feit dat die video nie op fotograwe gerig is nie, deel hy ‘n stukkie advies waarby elkeen van ons wat ‘n kamera in die hand neem kan baatvind. In kort kom dit daarop neer dat daar altyd ‘n geleentheid vir ‘n goeie foto is. Selfs al lyk dit of daar niks is om af te neem nie, as mens jou kamera uithaal en rondkyk sal daar altyd iets wees. Dalk net ‘n abstrakte beeld, dalk ‘n tekstuur, dalk ‘n moontlike makro foto. Maar iets is daar altyd. Dis nou as die fotograaf gereed is daarvoor.

Dit verg ‘n besonderse tipe ingesteldheid. Ander oë. ‘n Ander houding. Stap bietjie deur jou eie tuin met nuwe oë. Verander die hoeke waarteen jy foto’s neem. Gaan lê op die gras en beskou die bekende omgewing met nuwe entoesiasme. Kyk hoe lyk  bome as die agtergrond nie die heining is nie, maar die wolke. Watter detail is verskuil in die gereedskapkas in die motorhuis?

Ek hoor so dikwels mense praat oor die toerusting wat die fotograaf gebruik. Goeie toerusting is handig, maar nie naastenby so handig soos ‘n goeie houding, ‘n tikkie entoesiasme, ‘n ywerige oog, en ‘n titseltjie kreatiwiteit nie. Hierdie is die bestanddele wat help om die resep van ‘n goeie foto te vervolmaak. Toerusting is handige speserye wat die foto kan help verbeter.

Onlangs is ‘n fotografieboek publiseer waarin puik foto’s verskyn. Almal geneem met ‘n i-phone! Verstaan mooi, ek sal nie ‘n troue met ‘n i-phone wil afneem nie, - goeie toerusting is noodsaaklik! Tog, wanneer jy ‘n besluit moet neem of jy iets wil afneem, en jy besluit dan om dit nie te doen nie, as gevolg van “’n gebrek aan die regte toerusting,” dan maak jy ‘n fout. Neem gerus die foto, doen jou bes om dit so goed moontlik te neem. Maak tyd om te verseker jou komposisie is reg – en verras jouself!

In kort, moet nooit jou toerusting as ‘n verskoning gebruik om nie jou fotografie te geniet, jou kreatiwiteit uit te leef, en die wonderwerkwêreld rondom jou te waardeer nie!

Views: 76

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Marianne Niemann on November 18, 2011 at 8:25am

Ons raak so afgestomp en 'sien' nie meer dinge om ons raak nie ..... hierdie artikel laat mens net besef daar is so baie wat nog nie 'gesien' is nie

Comment by Elize Badenhorst on November 14, 2011 at 3:41pm

Igno,

Jou blog "Daar is altyd 'n foto" was lekker om te lees. Dis so waar, want ek sien altyd orals iets wat ek brand om af te neem met my kamera. Ek voel soms skaam omdat ek altyd aan die fotoneem is en ander mense nie, maar ek sien altyd iets raak en MOET dit net afneem. Ja, dit is soms abstrak, soms 'n spesiale oomblik in 'n mens se lewe, soms die grofheid van 'n boomstam of die mooi van 'n blom, die wonder van 'n insek. Dit voel vir my ek kyk met kamera-oë rond en wat wil ek doen met al die fotos? Ek sien goed raak wat ander nie raaksien in die alledaagsheid nie en is lekker om dit op fotos vas te vang.

Dit is soos jy sê, mens moet altyd gereed wees vir 'n foto al het jy nie die regte toerusting soos 'n driepot gereed nie.  Baie goeie fotos (sekonde oomblikke) sal verlore wees as jy eers toerusting moet uitpak!

Ja dit is voorwaar 'n wonderwerk-wêreld waarin ons leef en dankie tog vir kameras waarmee mens sommige beelde daarvan kan vasvang om vir ander ook te wys!

Elize Badenhorst. 

Comment by Marcel Schmidt on November 12, 2011 at 6:13am

Ek sou nooit in fotografie belang gestel het as dit nie vir Chasee Jarvis en sy 'The best camara' 'beweging' nie. Hy is ongelooflik kreatief en sy werk werklik inspirerend. 

 

Link na The Best Camara iPhone app - http://thebestcamera.com/

Link na Chase se website - http://www.chasejarvis.com/

Comment by Dana Pienaar on November 11, 2011 at 11:17am

Die hele kern van fotografie is volgens my, om iets deur ander oë waar te neem, dit digitaal of op film vas te lê, en dit met ander te deel en te waardeer. Elkeen van ons neem deur middel van sig dinge waar vandat ons in die oggend opstaan totdat ons ons oë in die aand toemaak om te gaan slaap. Alles lyk vir die 'normale' mens dan so alledaags en soms vervelig, maar deur die oë van die fotograaf, hetsy ervare of beginner, kan dit wat anders is waargeneem word en met diè wat dit nie so raakgesien het nie, gedeel word. Fotografie is beslis meer as net die vaslê van 'n beeld, maar is 'n manier om die mooi (en soms die lelik) met ander te deel.  Een foto word deur elke mens wat daarna kyk anders vertolk. Dit wat waargeneem word laat verskillende gedagtes deur jou gemoed flits. Party met 'n glimlag en party met 'n traan.

Deur na dinge om jou te kyk met 'n 'ander' oog, sal vir jou beslis die 'foto' laat raaksien wat daarin weggesteek lê en wat ander nie raaksien nie. Daar is altyd 'n foto iewers in jou dag. Die keuse is joune, sien dit raak, soek daarna, of laat dit verby gaan. Wanneer jy dinge om jou in 'n foto sien wat ander sal verryk, sal jy dit beslis nie by jou laat verbygaan nie. Daar is altyd 'n foto !!!

© 2019   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html