Die belangrike rol van fokuspunte in jou kamera

Enige goeie foto moet aan een belangrike vereiste voldoen. Die foto, of die belangrikste deel daarvan, moet in fokus, oftewel “skerp,” wees. Nou daar is verskeie redes waarom foto’s uit fokus kan wees. As die kamera nie doodstil gehou word nie, gaan die foto nie skerp wees nie. Om daardie rede moet mens die kamera altyd so stil as moontlik hou, en dit is waarom baie fotograwe driepote gebruik. Veral wanneer foto’s teen ‘n lae sluiterspoed geneem word, is daar dikwels kamerabeweging wat meebring dat die foto nie in fokus is nie. Dikwels sien mens nie gebrek aan fokus wanneer jy op die kamera se LCD skermpie kyk nie, maar sodra jy by jou rekenaar kom is dit dit dikwels ‘n teleurstelling om te sien dat die foto glad nie helder in fokus is nie.

Die meeste digitale kameras het deesdae bepaalde fokuspunte. Met ander woorde, jy kan kies waar die kamera moet fokus. Baie kompakte kameras se fokuspunte is reg in die middel van die area wat afgeneem word, en dit maak dit nogal moeilik om met sekere foto’s goeie fokus te kry. Verbeel jou nou jy moet twee mense wat langs mekaar staan afneem. Jou kamera fokus dan presies in die middel van die foto – tussen die twee mense. Dit beteken die muur agter is in fokus, maar die twee mense voor is uit fokus. As mens dus nie die belangrikste fokuspunt van die foto in die middel van die foto het nie maak dit die situasie moeilik. Wat jy dan kan doen is om die kamera te draai sodat dit eers een van die persone in die middel het. Die sluiterknoppie halfpad in te druk sodat die kamera op die persoon fokus. Dan kan jy jou komposisie weer regkry, met die sluiterknoppie steeds halfpad ingedruk. Solank as wat jy dan dieselfde afstand van die persoon af bly sal die fokus reg bly, en die persoon sal dus in fokus wees. As die een persoon verder agtertoe staan gaan die fokus steeds die helderste wees op die persoon waarop die fokus aanvanklik vasgesluit is.

Dieselfde beginsel geld vir Digitale SLR kameras. Die kamera bied jou die kans om om een punt, verskeie punte, of in die algemeen te fokus. Hierdie seleksie van fokuspunte is besonder belangrik vir die skerpheid van jou foto’s. Veral wanneer jy werk met ‘n baie vlak velddiepte (groot lensopening) is dit baie belangrik om jou fokuspunt te selekteer sodat die deel van die foto wat in fokus moet wees deur die kolletjie wat die fokuspunt aandui “ge-merk” word. Indien die kamera op outofokus gestel is, sal jy gewoonlik ‘n biep-geluid hoor wanneer die fokuspunt op iets fokus (terwyl jy weer eens die sluiterknoppie halfpad indruk). In die meeste gevalle sal mens, wanneer jy mense afneem, die fokuspunt op die oog van die persoon wil kry. Dit is gewoonlik die deel wat die skerpste moet wees.

Ten einde te kyk of jou fokus reg is, bied die meeste digitale kameras vandag ‘n zoemfunksie (dikwels ‘n prentjie van ‘n vergrootglas), waarmee jy vinnig terwyl jy na die foto’s kyk die foto kan vergroot en derhalwe bevestig of die kritiese dele in fokus is. ‘n Begrip van die fokuspunte is die belangrikste stap op die roete na goeie foto’s. Maak dus doodseker jy verstaan die gebruik van fokuspunte op jou kamera.

Fotoskolers, kom gesels gerus in die comments saam oor die belangrikheid van fokuspunte, of julle dit gebruik en hoe julle dit gebruik!

Views: 279

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Donald Daniel Jacobs on July 24, 2012 at 9:26pm

Baie insiggewend Igno

Comment by Pierre Hardinge on July 11, 2012 at 9:17pm

Baie dankie Igno vir die onderwerp, ek het n probleem... ek het tans n eksperiment waarmee ek besig is, ek sukkel baie om die fokus mooi suiwer te kry.

My voorwerp is n paar swartpeper korrels met koriander tussenin. my toerusting is as volg...

Kamera- Canon 450DSLR

Lense- Conan 50mm en Sigma 70-300 en n Cosina 100mm met Makro Adapter

Driepoot- baie stewig

En ek gbruik n remote

Beligting- "homemade" ligboks met foil en lampe ook met foil aangepas.

Afstand vanaf voorwerp met Sigma 70-300 lens is 1 meter.

Afstand met Cosina 100 mm met Makro Adapter is plus minus 5 tot 10cm en afwisselend.

Nodeloos te se het ek al die fokus punte probeer en al drie AF funksies probeer ek het al met ISO ook rondgespeel. Ek het ook al met al vier Metering modes gespeel en ek kry net nie die fokus so suiwer soos dit  moet wees nie.

Help asb ek is al raadop...

By voorbaat dank.

Pierre Hardinge

 

© 2020   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html