Vissermanne huil oor die ou grote wat weggekom het… Gisteraand het ek geween oor die once-in-a-lifetime foto wat ek nie gekiek kon kry nie! 

Ons woon op ‘n dorpie wat spog met ‘n voortreflike hardewarewinkel.  Ek en my man is d-i-y entoesiaste en gereelde kliënte. Hier het ons Benji ontmoet.  Liewe, goeie ou Benji - altyd gewillig om klante met raad en daad te bedien en die ekstra myl te loop.   In sy dertigs, maar met die aansien van ‘n pas uitgebroeide nonnetjiesuil wat sy oë so s-t-a-d-i-g knip agter die dikraambril.  Benji het ons jaloers opgeëis as sý kliënte en wee die ander verkoopspersoneel wat dit naby ons waag.  Hy bedien ons en klaar!

So kry ons toe eendag ‘n soldeerstel nodig en Benji is nie links nie.  Ons kan sommer syne leen wat sy oorlede oupa nog in die boereoorlog gebruik het om die perde se hoefysters tjop-tjop mee reg te sien, sommer so in die galop.  Ons sal hom nou nie glo nie, maar daai einste perde se vulletjies is truly met hoefysters aan gebore, sulke knap werk het sy Oupa verrig met die einste soldeerstel wat hy aan ons gaan toevertrou.  Hy sal dit na-ure bring, en moenie worry, dis g’n niks moeite.  Ons moet ook nie daaraan dink om die soldeerstel aan hom terug te besorg nie, hy sal sommer eendag by ons uitslaan vir ‘n koppie boeretroos en hopelik ‘n ou stukkie mosbeskuit.

So is dit dan.  Een weeksmiddag na werk klop Benji aan die deur, erg dors vir koffiebone en lus vir geselskap.  Hy’s jammer hy’t nie vooraf gebel nie, maar sy selfoon se battery lol.  Hier is hy nou en daar staan die ketel mos reg om te kook.  Benji kuier en drink koffie en eet ‘n hele boks winkelkoekies by homself op.  Hy sê nie nee vir ‘n tweede en derde koppie nie en ja, vier teelepels suiker is net-net genoeg, dankie, of nee, gooi tog maar ‘n ekstra enetjie in vir die wis en die onwis, die lewe is bitter genoeg.

Ons gesels oor wafels bak drie-uur in die oggend in ‘n stil, slapende huis as die lus vir ietsie soets hom onverhoeds oorval; oor die jintelman brulpadda wat in die fonteintjie voor sy ma se kamervenster hom ewe tuisgemaak het en elke aand nogal nootvas serenade; sy meisie wat sowaar snuf in haar fyn, gepoeierde neusie wil-wil kry dat hy wat Benji is, ja hý van alle mense, dit oorweeg om haar te verneuk.  Vanwaar Gehasi? 

Dis ounag donker toe Benji uiteindelik aanstaltes maak en deur toe staan met die soldeerstel sorgsaam onder die vlerk gebêre.  Buite groet hy ons met karplaks-soene asof ons bloedfamilie is. Daarna maak Benji sy golf se agterdeur oop en verdwyn halflyf die donkerte in waar hy die soldeerstel op die agtersitplek neersit soos ‘n sorgsame vader sy slapende kindjie sou neerlê.

Die volgende oomblik weerklink ‘n erg verbaasde:  “Hy’s uit?”  Vir ‘n oomblik lank is dit doodstil en dan retireer Benji uit die golf uit met ‘n geskrou wat alle vierpotiges in die buurt aan’t blaf en kerm laat gaan en spring ‘n allemintige sprong wat hom doer eenkant op die oorkantste sypaadjie laat beland. 

“Wie’s uit?” vra ek nuuskierig en staan nader om in die duisternis van die motor in te loer, dronkgeslaan deur Benji se vreemde optrede.

“Pofadder,” huilsnik Benji en ril dat jy sy maer ribbetjies hoor ratel soos lepels wat oor omgekeerde kastrolle getrek word.  Hy trippel soos ‘n hans kakieperd op steroids wat wag om deur oorle Oupa geskoen te word.

“Pofadder?” adem ek floutjies, dom geskrik.

“Pofadder!” swets my man.

Konsternasie…

Aardige dinge gebeur meteens gelyk.  Die pofadder, ‘n volgroeide beaut van ‘n liederlike addergeslag, lê simmetries opgerol tussen die speakertjies in die agterruit en loer met koue kraalogies na ons terwyl die tongetjie gevaarlik vurk-vurk.  My man skop die motordeur toe asof hy in sy jongdae klas gedraf het by karate-fundi Bruce Lee.  Buurman kom in sy boxer aangesnol, rollie aan die sy en hoogs triggerhappy.   Die bloed vloei met ‘n rush terug in my ledemate in en ek hol kringe soos ‘n opgewende foksie en maak vir my kamera in die huis.

Buite gekom, staan manlief, buurman en ‘n highly strung Benji en koukus verwoed.  Blyk toe dat Benji en van sy kollegas die slang op die parkeerterrein van die hardewarewinkel raakgeloop het en besluit het om die eerbare ding te doen en nie die reptiel voor die voet van kant te maak nie.  ‘n Boks is uit die stoor loop haal en oop kant voor neergesit.  Die dapperste dappere het die pofadder met die heel langste hark wat in die winkel te kry was, in die boks ingestoot-stoot onder luide aanmoediging van omstanders wat liefs sowat 100 meter weg gestaan het.. 

Benji het aangebied om die pofadder iewers in die bosse oppad huistoe vry te laat.  Dit was die plan voordat die lus vir koffie hom beetgepak het.  Hoe moes hy dan nou ook kon raai pofadder se skelm kind sou wragtag teen die steil kante van die toegevoude boks uitseil en homself in die agterruit van die motor tuismaak!  Waar’t mens al van so-iets gehoor, anywayI mean, in all fairness, ta sal daai Houdini-ou laat skaamkry, of hoe?  Dalk is dit iets waarin die Guinness-watserekorddinges mense dalk sou in belangstel?  Jissem, dalk betaal hul vir nuus oor dié vreemde gedoente, bespiegel Benji en Buurman kry ‘n salige, veraf uitdrukking in sy oë.

Manlief sien hy moet red wat daar te redde is, anders slaap Benji nog vanaand oor ook, want daar’s g’n manier wat hy in daai kar van hom kan klim saam met die rylopende pofadder nie.  Die braaitang word gehaal en die agterdeur versigtig oopgebeur met bewende vingerpunte.  Die oop boks op die sitplek word nadergetang en dit val met ‘n gedempte doef op die teer.  Ons almal spring sommer byvoorbaat ses voet die lug in, net ingeval daar nog ‘n pofadder daarbinne is en wat sy lyf wil escape artist hou en mens liefs nie sy pad na vryheid moet versper nie.

Die braaitang word hierna weer bekyk, bevoel, gemeet en heeltemal te kort gevind.  Eerder die swembad se paalnet naderbring.  Manlief bewe so dit klink of hy dromme speel teen die golfie se dak en die sitplek toe hy die paal by die oop deur indruk.  Dis nie nou die tyd vir ‘n man se vrou om ‘n senuagtige proesgeluidjie te maak nie -  veral nie as hy ‘n slaanding in die hand het nie! Ek onthou van die kamera om my nek en vroetel so in die donkerte na die sluiterknoppie, my uitpeuloë stokstyf op die toneel voor my. Ek beter gereed wees om te hol as manlief daai slang beetkry, want wragtag, hy sal mos nie weet wat om met hom te maak as die oomblik te groot is nie!

Die volgende oomblik hark manlief perongeluk die slang raak en trek dit by die oop deur uit.  Plof!  Toe slang se lyf kontak maak met die teer, toe dans die poppe!  Ons trap riele wat boesmans sal laat skaamkry.  Ons perform net daar die reëndans asof ons Modjadji se bloedkinders is.  Ons loop oor hetige kole en grou lugmolekules in flarde met uitgestrekte toonnaels.  G’n rooihuid in ‘n low budget cowboy-fliek kan by ons passies kers vashou nie.  Dan praat ek nie van die entoesiastiese gesprak en gesprook in vele tale nie! 

Try as he might, Buurman kry nie sy rollie uit die holster nie, daarvoor bewe hy te veel.  Benji gaan aan’t poepe dat dit klink soos ‘n quadbike wat backfire.  Manlief swaai daai paal rond asof dit ‘n chinese eetstokkie is.  Ek neem verwoed foto’s met ‘n kamera waarvan die lensdoppie nie eens afgehaal is nie!

Gelukkig besluit die pofadder hy’s nie lus vir sulke lawwigheid en lawaai nie.  Ta maak vir die oop boks om van die allervreeslike pandemonium weg te kom.  Soos blits klap manlief die boksflappe toe met sy uitlandse eetgerei en asof uit die nuut verskyn duct tape en daai boks word soos ‘n krismispresent gewrap met presisie wat ‘n opehart sjirurg sal beny.

Benji tel die boks met stokstywe langarms op en dié keer word die boks met slang se kind in in die boot en nie op die agtersitplek neergesit nie.  Hy verklaar terstond in ‘n hoogs falsetto-toon dat hy wel ‘n diereliefhebber is en wel sy woord gestand sal doen en die slang iewers in die bosse sal vrylaat.  Tjaag… Hoekom loop hy dan so gulp voorkant toe verby om agter die stuurwiel in te skuif?  Briekmerk, dalk?

Buurman slof pê gedans huistoe.  Ek en manlief hink bed toe waar elke terloopse aanraking van die laken ons grillerig laat regop sit.  Ek loer vir my kamera op die bedkassie en sug spytig.  Ek sou darem wat wou gee om net één ou fototjie te kon hê om hierdie ware verhaal te staaf… ai man…  Die gróót een wat weggekom het, inderdaad!

 

1494 woorde

 

Louise Viljoen

 

Views: 210

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Louise Viljoen on September 2, 2014 at 10:29am

Baie dankie vir almal se positiewe kommentaar.  Ek het 'n groot sprong gewaag en het sopas my eie blog begin - sommer net omdat jul aanmoediging my geinspireer het en daarvoor sê ek baie dankie.  Gaan loer gerus na my blog en lewer gerus ook kommentaar daar.  Volg sommer my blog op 'n gereelde grondslag indien u van my werk hou.  www.eksemplaar.wordpress.com

Comment by Nico Coetzee on September 1, 2014 at 6:45pm

Louise ek dink jy is 'n voortreflike skrywer met 'n defnitiewe aanvoeling om 'n skrywer te wees. Hou aan (Ek het die leesstuk uitermatig geniet) Dankie - Hou aan skryf

Comment by Donald Daniel Jacobs on August 26, 2014 at 9:14pm

Pragtige beeldspraak Louise en dankie vir die storie

Comment by Henriette Auerswald on August 26, 2014 at 2:12pm

Uithaler storie van A - Z

Comment by Louise Viljoen on August 26, 2014 at 12:35pm

Baie dankie dat jul my storie gelees en geniet het.  Vier tydskrifte het dit afgekeur, so ek is heel in my skik dat ek darem 'n waarderende gehoor (lesers) gevind het in my mede-fotoskolers. Vrede vir julle almal. 

Comment by Doretha Kock on August 23, 2014 at 2:48pm

Louise, dis uitstekend geskryf en ek het dit baie geniet.

Comment by Piet Nel on August 23, 2014 at 6:39am

pragtig Louise

Comment by Liz on August 22, 2014 at 3:03pm

Hehe ek het my omtrent 'n papie gelag... absoluut fantasties geskryf!!!

Comment by Christa Snyman on August 21, 2014 at 7:42pm

Jy is 'n baie talentvolle vrou wat die skryf- en vertelkuns behoorlik bemeester het - dankie vir die verhaal, het dit baie geniet!

Comment by Anita du Toit on August 21, 2014 at 1:27pm

Jy is 'n uitmuntende storieverteller Louise, ek het dit baie geniet!

© 2018   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html