Aankondiging.  Hier aan die tuisfront is 'n nuwe spesie ontdek! - die wetenskaplike naam: Fotoskolia fotografus.

Ek wou mos sê daar wil 'n klokkie lui.  Staan hy nie ook in gewone taal bekend as Die Fotoskoler nie?

Eintlik is die spesie al 'n geruime tyd bekend aan die mensdom, maar word nou vir die eerste keer deur 'n makrolens beskou.  Kom ons kyk na die HOOFSPESIE.  Ons het hier te doen met 'n kleurvolle en veelsydige karakter. Ek sal probeer om hom aan julle te beskryf, soos ek hom deur my lens sien. Hiervoor is 'n paar gevleuelde woorde nodig.  Hy is beslis 'n woelige, maar deernisvolle karakter.

 -  Avontuurlustig en entoesiasties.  Wanneer hy voel dat daar 'n tekort is aan fotografiese geleenthede in sy lewe, vat hy die pad, hoopvol en oortuig van al die moontlikhede wat net oor die bult lê en wag. Dikwels is hy suksesvol, en kom terug met meer materiaal as waarvoor hy gehoop het.  Dan is daar ook die tye wat hy bietjie mistroostig voel oor die pas afgelope uittog van hom, nie heeltemal wat hy in sy geestesoog gesien en gehoop het nie.

 -  Leergierig, weetgierig.  Daar is gelukkig verskeie bronne tot sy beskikking om te voldoen aan sy onuitputlike dors na fotografiese kennis en vaardighede.  So gebruik hy die werke van die Meester-fotograwe as bron van inspirasie, die Internet om sy kennis verder aan te vul en woon op die koop toe 'n verskeidenheid fotografiese kursusse by, soos opgestel deur die Leermeesters. 

  - Geduldig en gedwee.  Indien die situasie dit van hom vereis, sal hy soms vir ure sit en wag vir daardie perfekte fotografiese oomblik, dikwels in groot ongerief, as gevolg van slegte omstandighede waarin hy hom bevind.  Gure weer, ensomeer. 

  - Sensitief, simpatiek.  Die nood waarin ander verkeer, gaan nie ongesiens by hom verby nie. Hy sal die wêreld daarvan bewus maak, deur die situasie uit te wys in sy fotografiese werke.

  -  Fyn waarnemingsvermoe - met die tyd baie goed ontwikkel!  Hy kyk dikwels met 'n ander oog na die wêreld om hom. So sal hy byvoorbeeld die prag van die natuur baie intens ervaar.  'n Enkele, klein veldblommetjie sal sy aandag trek - miskien nooit deur ander raakgesien nie.

  - 'n Fyn sin vir humor.  Hy geniet die lewe in al sy fasette - die lagspiere dikwels geprikkel deur die een of ander komiese situasie waarin hy homself bevind of diegene rondom hom.  Daar is nog baie ander karaktertrekke en eienskappe, maar vir eers is hy genoeg besing.

Nou kan ek inzoem na die subspesies.  Om hulle uit te wys, sal ek gebruik maak van 'n paar fotos ter illustrasie.  Die fotos hier is uiteraard van die saak nie noodwendig van hoogstaande kwaliteit nie.

 

SUBSPESIES

  1.  Die Armswaaiers.

Hulle hou daarvan om uit te wys, rond te swaai. Dikwels word hy ook genoem die leermeester.  Hy geniet dit veral om sy orkes te dirigeer.

 

  2.  Die Narre.

Bevind hulself gewoonlik in een of ander onbenydenswaardige, ongemaklike posisie.

 

  3.  Die "Na aan die Aarde tipe" - onderverdeel in:

  3.1  Die Grondseilers

verkies om een te word met die aarde

 

  3.2  Die Spoorsnyers

gewoonlik die ywerige of is dit die oorywerige tipe

 

  4.  Die Bekruipers

Gebukkend, afwagtend, tjoepstil.

 

  5.  Die Agies (nuuskieriges).

Altyd bang daar is iets wat hulle gemis het/nie raakgesien het nie.

 

  6.  Die Beswaardes (swaarmoediges)

Hulle word ontstig deur die volgende:  Sand in hul skoene en toerusting, kouse vol klitsgras, klere vol wewenaars, modder aan hul skoene.

 

   7.  Die Groothartiges (Is ook mededeelsaam van aard)

Ons deel die tyd by die model.  Die eerste paar skote is joune en dan is dit weer my beurt.  Intussen sal ek maar geduldig eenkant staan en wag.

 

En so kan ons voortborduur oor die verskillende subspesies.  Het jy dalk al jou eie spesie hier herken?

Op 'n ernstiger noot.  Die fotograaf vervul 'n baie belangrike rol in die wereld, en kry moontlik nie altyd die nodige erkenning vir sy werk nie.  Hoewel die Papparazzi en sommige ander se manewales nie altyd waardeer word nie, is daar ook die ander fotograwe (sommige in die voorste linies) wie se lewenstaak dit is om al die nuuswaardige gebeure na ons te bring deur middel van die media.  Soms is dit ten koste van hul eie lewens.  Ons dank aan hulle en al die ander fotograwe wat so 'n groot bydrae lewer in ons wereld !

Met dank aan al die fotomodelle wat verskyn in die fotos, by name Igno, Charles, Riaan, Arno, Liezl, en Marius.  Dankie ook aan Charles en Liezl vir hul bydrae en insette.

Auf Wiedersiehen !

 

 

 

Views: 371

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Marietjie Whitehead on December 20, 2011 at 8:36pm

Dankie, Igno.  Dalk lewer die vakansie iets op vir bietjie navorsing !  Mens weet nooit :-) 

Groetnis.

Comment by Igno van Niekerk on December 20, 2011 at 12:24pm

Hallo Marietjie,

Steeds een van die kostelikste blogs op fotoskool... hoop jy is met nog navorsing bedrywig!

Groete

Igno

Comment by Marietjie Whitehead on July 5, 2011 at 10:19am

Dankie, Marius, ook vir die A+ wat ek sou behaal het.  Jy het ook reg geraai.

Jy is beslis een van die karakters in my storie !

Comment by Marietjie Whitehead on July 5, 2011 at 10:14am
Dankie, Gerrie.  Ek het dit baie geniet om hierdie blog te skryf !
Comment by Gerrie van Vuuren on July 5, 2011 at 8:55am
Kostelik!
Comment by Marietjie Whitehead on July 4, 2011 at 9:27pm
Igno, ja, ek is hier die "onsigbare fotograaf" - soos die spook in die verhaal !
Comment by Marietjie Whitehead on July 4, 2011 at 9:01pm
Dankie Rudi.  Ek is bly ek kon 'n bietjie vermaak verskaf.
Comment by Rudi Kleynhans on July 4, 2011 at 8:47pm
Pragtig, Marietjie.  Dankie vir die lag!
Comment by Igno van Niekerk on July 4, 2011 at 8:33pm

Wie is hierdie mense? :-)

En ja, watter ene is jy?

Comment by Igno van Niekerk on July 4, 2011 at 7:05pm
Hallo Marietjie - lekker blog! Fyn waargeneem met "fotografiese" in-sig...

© 2019   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html