Die sielkunde van landskapsfotografie...Deel 1

Omdat ek ongelooflik geinteresseerd is in die motivering van mense, is dit nogal heel interessant om te dink oor die "sielkunde agter landskapsfotografie." Nou moet asseblief nie hierdie blog na enige sielkundige toe neem nie. Ek kan dalk vir waarneming opgeneem word!

Die eerste les oor landskapsfotografie is om tyd te maak vir landskapsfotografie. Jy gaan by baie plekke verbyry en wens jy het tyd gemaak om te stop. En dan, ander kere, gaan jy tyd maak... en dan wonder waarheen om te ry!

En so slaag Riaan toe daarin om my en Charles te oortuig om tyd te maak. Woensdag was immers vryheidsdag. Mens is vry om landskappe te gaan afneem!

Nou nadat tyd gemaak is - trek reg aan! Ja, weer eens - maak seker jy trek klere aan waarmee jy gaan gemaklik voel om in die veld rond te loop. Dink net daaraan hoeveel makliker dit is om te gaan draf as mens 'n sweetpak aanhet, eerder as jou werksbroek en skoene! Dieselfde geld vir landskapsfotografie. Lekker veldskoene en veldklere maak dat jy meer geredelik bereid sal wees om af te klim vir foto's! En as jy nie bereid is om af te klim nie, wel, dan gaan jy nie foto's kry nie...

Maar selfs as jy bereid is om af te klim, is daar nie altyd iets om af te neem nie. Veral nie in die begin nie. Nadat ons effe doelloos op die ou Kimberley pad geklim het, is dit Riaan se GPS (aha - nog iets lekker vir landskapfotografie) wat ons op 'n afdraaipad neem. Intussen is daar geen dramatiese wolke nie, geen mooi lig nie, eintlik niks wat mens opgewonde maak nie. Dus, toe ons die eerste keer water sien stop ons en wag vir die wonderlike mooi oomblik... wat nie kom nie. Mens weet jy het uit landskappe geraak as jy jou mede fotograwe begin afneem:

(as die foto's effe geblur lyk, moenie kommer nie, klik net op die foto vir die volle grootte foto) :-)

Nou ja, jy kan ook net soveel doen, dan soek jy verder vir iets om af te neem. Maar by hierdie rivier, waar ons desperaat soek na iets in die voorgrond, bly die prentjies ons ontwyk...

As daar nou net 'n boot kon aankom, of 'n rivierdraak, of enige iets. Maar die rivier vloei salig verby, ongesteurd deur die drie dramasoekers...

Charles besluit toe om self bietjie drama te probeer bring. Volgens sy formule kan mens dalk 'n filter gebruik om die kleure te verander. Hy leen my selfs sy filter, en ek soek ook na die vermiste herfs...

Na 'n rukkie besef ons dat die rivier nie regtig gaan werk nie. Riaan noem wel iets waaraan landskapsfotograwe altyd moet aandag gee: "Ons moet net kyk waar die son gaan sak." Altyd iets om in gedagte te hou. (Dit is 'n fotoskool hierdie, so neem daardie paar woorde as die les van die dag as julle wil :-))

Nou ja, intussen moet ons voort. Een van die belangrikste sielkundige dinge van landskapfotografie is dat 'n mens moet kan aanbeweeg as iets nie werk vir jou nie (dit is ook skynbaar waar in die ware lewe :-))

So, toe beweeg ons aan.

Na die volgende stroompie. Let op dat daar bykans niks is om af te neem nie, maar Charles byt vas. "Die lens kan mens dalk verras."

Maar selfs besef later dat die lens nie foto's kan skep waar daar nie foto's is nie. Tog is hy 'n vasbyter: "Dalk as mens die hoek verander?" En hy gaan staan regop...

Nou op hierdie stadium was ek reeds desperaat op soek na enige iets anders om af te neem. Onthou, selfs in landskappe is detail. Tog, in hierdie geval kry ek ook nie detail nie. Toe besluit ek maar om 'n les af te neem vir fotoskool! Dis 'n Beginnersles, maar ek hoop dit maak sin. Het julle geweet dat as mens 'n motorspoor teen F2.8 afneem daar net 'n klein bietjie "diepte van veld" is? Kyk, hier is so 'n foto. Die kamera is in Aperture prioriteit, en op F2.8:

As jy egter die lensopening verklein (dus na 'n groter nommer neem) is daar meer diepte van veld (WOW! :-)) Hier is dieselfde spoor op F9...

Nou ja, toe Charles en Riaan sien dat ek my met sulke "beuselagtige" lessies besig hou, besef hulle dat dit sielkundig beter sal wees as ons dalk voortbeweeg.

'n Paar kilometer verder vra Riaan: "Wat is daardie daar voor in die pad?"

Ek besef dat ek dit verloor het, want vir my lyk dit soos 'n donkiekar wat 'n breakdown gehad het! Wat is dit?

Lees gerus in die volgende blog verder...

 

Views: 190

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Igno van Niekerk on May 1, 2011 at 9:56am

Hallo Selma

Ek dink julle bly in een van die mooiste dele van ons land! Sal regtig graag op 'n stadium daar wil uitkom. Ek ken ook daardie "agterdierekenaarwathetvandieprentjieswatekgesienhetgeword" gevoel. (Lekker lang woord vir daai gevoel!) - Maar dan tel mens maar weer die kamera op en soek verder, en net soos jy dink daar is niks, skielik verskyn daar iets... seker maar hoekom ons foto's neem. Groete, Igno

Comment by Selma on April 30, 2011 at 8:14am

Hi Igno

Ek het hierdie nou vreeslik geniet!  Ons ry graag rond hier tussen die plase in die Oos Kaap en ek is permanent op soek na 'n "prentjie".  Maar soms as ek by die huis kom en die foto's aflaai op die rekenaar is dit toe nou nie die prentjie wat ek gesien het nie.  Ek het nou nie 'n "fancy" kamera met 'n lang lens nie en baie van my foto's se kwaliteit lyk maar sleg as ek te ver moet neem.  Julle moet gerus bietjie op 'n tyd in hierdie wêreld kom foto's neem  Molteno, Sterkstroom Penhoek, Tarkastad.  Die berge is natuurlik ongelooflik met so baie skakerings van blou en groen!

Groete

Selma

Comment by Jacques van Delft on April 29, 2011 at 6:41pm

Hi Igno, ek gaan dit more probeer en hom op die blog sit, wat jy se maak sin.

Dis baie besig by my werk en ek het nou 'n lang naweek dus moet ek nou weer inhaal.

Groete

Comment by Igno van Niekerk on April 29, 2011 at 5:27pm

Hallo Jacques

Dis lekker om jou weer aktief te sien, jy was stil die laaste tyd. 'n Interessante vraag oor die hek. Sou mens dit dalk effens oop kon maak sodat die boom links (wat halfpad deur die hek "toegemaak" word) ten voll kan sien. Ook interessant is dat die hek juis die pad (wat die lyn in die foto vorm) toemaak.Sal interessant wees om die hek te kon oopkry dat dit die lyn van die pad ondersteun. (Net 'n paar gedagtes - laat weet wat jy dink) Groete, Igno

Comment by Jacques van Delft on April 29, 2011 at 5:16pm
Dit is werklik so dat 'n mens moet tyd maak om iets raak te sien, alhoewel ek gister al begin kyk het na die hek het dit my wel tyd geneem om die kleur en komposisie reg te kry. Ek hoop ek het hierin geslaag.
Comment by Igno van Niekerk on April 28, 2011 at 8:52pm

En dan nog die filter --- en daar bewys jy die eerste wet van die sielkunde van landskapsfotografie: Daar is altyd iets - mens moet net tyd maak om dit te sien!!

En kyk nou net!

Lekker ene, Charles!!

 

Comment by Charles Whitehead on April 28, 2011 at 8:41pm

Igno

Nie veel nie, maar daar was darem iets met die hoek verandering :)

Comment by Jacques van Delft on April 28, 2011 at 7:18pm
Hi Igno, Ek is op die oomblik vir 'n lang naweek in die Philippolis distrik en het besluit om dit 'n fotografie naweek te maak. Die laatste tyd was daar min tyd vir die kamera dus terwyl daar tyd is...... en landskap is mos vir my ook 'n lekker onderwerp. Ek het jou eerste les ook baie geniet en sien uit na die tweede les. Ek sal oon beslis die naweek foto's maak en laai met die oog op landskap. En ja soos Charles se.....LEKKER MAN!!
Comment by Charles Whitehead on April 28, 2011 at 5:15pm

Igno

Die Blog van jou lees soos 'n storieverhaal ......

Lekker man !

© 2020   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html