Die Sielkunde van Landskapsfotografie - Deel 3

Met die murasie in oog kry Riaan parkeerplek vir sy bakkie. Daar is ongelukkig 'n doringdraad wat ons weerhou daarvan om vinnig te beweeg. Omdat ek die kamerakusssing het (ander mense noem dit 'n boep of boeppens), help die twee met die sonbrandgesmeerde agterkoppe my eers deur die draad aan weerskante vas te trap terwyl ek deurklim.

Intussen het die temperatuur ook skielik geval. Ons al drie het warm klere aan, (onthou les 1 in hierdie reeks - trek die regte klere aan of vat die regte klere saam) wat die prosessie deur die doringdraad ook effe bemoelik, want ons is bietjie dikker as gewoonlik (aangetrek). Deur die doringdraad versprei ons soos die Skarlaken-eskader. Ek kan nie onthou of die Skarlaken-eskader ooit versprei het nie, maar dit klink nogal lekker om te versprei soos die Skarlaken-eskader.  

Elke ou sien iets anders. Dis mos die wonder van fotografie. Daar is op een plek verskeie hoeke, verskeie prente en verskeie geleenthede.

Vir die tweede keer op een dag besef ek hoe handig dit is om 'n flash byderhand te hou as mens landskappe afneem. Charles geniet hom gate uit in die murasie met sy flash terwyl ek in die koue dwaal.

Charles se flash laat die binnekant van die murasie soos 'n elektriese storm vertoon terwyl ek buite drentel en probeer om turksvye en bome te belyn teen die sakkende son.Die murasie met Charles en sy flash in lyk amper so:

En dis net sy opwipflits, hy het nog nie eers die eksterne een aangeskakel nie!

Ek wonder of Charles nie dalk so koud kry dat hy homself met die flash probeer warm maak nie. Daar is min mense wat kan spog daarmee dat hulle hulself al warm ge-Flash het, maar dit wil voorkom asof Charles aspirasies het. Ek praat nou hier van kamera flash. Sies vir julle wat aan ander flash-dinge gedink het...

Nou hier is ook nogal 'n handige les. Mense vra dikwels watter tipe kamera om te koop. En dan ontstaan die nuwe debat - Canon of Nikon, of wag, dalk Sony, nee -Pentax. Riaan het die regte antwoord al lankal op die internet raakgelees. "Koop wat jou vriende het. Dan kan jy hulle lense en flash leen." Baie maklike oplossing, en dit beteken dat ek ook Charles se flash kan leen as ek bietjie wil flash. Maar vir my is dit te koud om te flash. Ek loop heen en weer om hoeke te soek, maar ook om warm te bly.

Uiteindelik raak dit te donker. Ons beweeg terug na die bakkie waar Riaan soos 'n wafferse donkiekardrywer weer agter die stuur inval. Hy vra ek moet sy baadjie vashou. Hy, sy kamerakussing en die baadjie pas nie saam agter die stuurwiel in nie. Jare gelede kon hy nog, maar noudat hy ingehaal het op sy behoefte aan kos is dit bietjie moeiliker. Die hele baadjie is deurtrek met knapsak. Ek hou maar vas, min wetende dat hy my later gaan verwyt vir die beknapsakte bakkie.

Charles sit maar net en bewe. Dis duidelik dat hy smag na iets warms. Iets soos 'n warmkleurige raampie...

En daardie aand, na 'n lang, sielkundig uitmergelende dag van landskapsfotografie laai Charles sy eerste foto op fotoskool. 'n Foto met 'n heerlike warm raampie.

En ja, die eerste wat met hom gesels oor sy raampie is ons Johannesburg gebaseerde guru, Robbie. Min wetende van die koue waardeur Charles gewroeg het, lewer Robbie sy gewone positiewe, opbouende sinvolle kommentaar - behalwe dat hy nie van die raampie hou nie... En Charles antwoord soos dit iemand wat deur 'n Racheltjie de Beer - ervaring gegaan het betaam, dat die raampie hom 'n warm gevoel gee!

En uiteindelik is dit mos waaroor landskapfotografie gaan - om ten spyte van die knapsakke, die koue, die donkiekarre en die drade 'n warm gevoel te kry wanneer jy na jou foto's kyk. Om dan te weet dat dit nie net oor die prentjie gaan nie, maar die storie agter die prentjie. En ja, om terug te sit en te weet dat elke foto vertel 'n storie, en hoewel die storie nie altyd in die foto is nie, is daar dikwels 'n storie agter die foto.

En daardie aand wonder Charles to oor die volgende stasie op die spoor van goeie foto's. En nie lank daarna nie kry ons die oproep. "Ons moet na die ou stasie toe ry waarby ons vanaand verbygery het." En ja, hierdie naweek was daar toe mos langnaweek. Maandagmiddag is ons gereed om stasie toe te gaan. Lees gerus volgende keer die eerste episode in die blogreeks: "Die sielkunde van stasiefotografie."

 

Views: 386

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Igno van Niekerk on May 6, 2011 at 6:37am
Hallo Etienne - :-) En ek moet noem dat die ander twee nie grasieus oor die draad geseil het nie... ai, die mag van tydsverloop darem ---

© 2019   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html