Die sosiologie van stasiefotografie...

Charles se direkte woorde was: "Ek was lanklaas op 'n stasie - dis nou tyd om dit weer te doen." Ek dog eers ek moet Alkoholiste Anoniem bel, of vir hom noem dat dit dalk nie 'n slegte ding is om met jou drankgeld kameratoerusting te koop nie, toe ek besef dat die man dit dalk letterlik bedoel! En daardie middag is dit tyd om stasie toe te gaan! Charles reken dat hy soos 'n stasiemeester voel, en intussen het Riaan ook besluit om te gaan, veral toe hy hoor ons beplan 'n middag "op 'n stasie." Ek nooi my broerskind Arno saam...met 'n pyp in die mond kan hy dalk my broer op facebook verras, of selfs sy skoolhoof...(die rook is darem in ge-photoshop)

Charles se vrou, Marietjie, en dogter, Liezel, is ook in die motor. Die eerste dilemma met so 'n ekspedisie is wie voor sit. Riaan reken die vetste ou moet voor langs die bestuurder sit. Ek dog eers hy probeer vir homself 'n plek losslaan, toe sien ek sy oog is op my fotografiekussing (boepie/boepens). Maar hy het self 'n kussing wat dalk 'n Can-on borgskap kan losslaan, en toe hy agter inskuif dink Marietjie: "As ons op die stasie kom gaan ek so gesquash wees dat my naam Maerietjie gaan wees."

Nou saam met trop van ons laai ons toe darem bietjie dekor in. Charles wou graag 'n ou tas saamneem, maar toe ek in my huis soek na die ou tas, kry ek net 'n pop.

Ek reken toe maar vir hulle ek vat 'n pop saam. Ek dink hulle het 'n model verwag, vandaar die effense opgewondenheid.

Maar die teleurstelling was sigbaar toe hulle sien dis een van my vrou, Arne, se kinderdagpoppe. Die ergste is  toe ek die ouderwetse pop inlaai, val daar sommer 'n klomp hare uit. Dis asof die pop haar agterkop met Charles en Riaan s'n wil "match." Hulle ry mos hoeka met ingeboude weerkaatsers (sulke effense haarlose kolle op hulle agterkoppe) as hulle gaan foto's neem. Die ander kyk my bleswordende pop met openlike teleurstelling aan. Veral Liezel, wat nou hoor dat sy die "hartseer-stasiemeester-se-dogter-met-stukkende-pop" rol losgeslaan het, wonder of Jan-Tuisbly se karretjie nie 'n beter opsie was nie:

By die stasie aangeland slaan elkeen 'n rigting in. Omdat Charles 'n meester van flash is. (Kameraflash, vir die wat nou weer anders dink), nader ek hom om bietjie te help met 'n foto van Arno. En hier begin die les. 'n Flash is onvoorspelbaar. Mens kan 'n paar opstel soos jy wil, maar jy gaan moet kyk wat met die skaduwees gebeur. Die foto hieronder het vir my lekker atmosfeer, maar let op die skadu teen die kant van Arno se neus wat pla.

As daar een ding is wat mens leer wanneer jy met jou flash van die kamera af werk, dan is dit die volgende formule: geduld+klein verstellings = moontlikhede. En moontlikhede waarborg nie noodwendig sukses nie, maar fotografie gaan oor jou spel met moontlikhede.

En so begin ons ondersoek en spel met flash. Ek het ook 'n idee dat ons so 'n lekker beswaarde (eg Suid-Afrikaanse sepie) foto van Liezel en die bleswordende pop kan neem, en die flash inspan, maar dis nie so maklik nie...

Met die lig van die kant af kry ek lekker atmosfeer op Liezel se gesig, maar arme Bleswordende Poppie verdwyn totaal in die skaduwee. En die skaduwee verdoesel ook die hele regterkant van die foto. Maar as mens nou flash van die duskant af gooi, verloor jy die atmosfeer op haar gesig... en Poppie is ook maar vaal...

Ons skuif flashes en Liezel doen haar bes om soos 'n Smartvraat te lyk sonder om uit te bars van die lag. Op die volgende foto val die lig al effe beter. Maar loer gerus na die spel tussen lig en skadu op al drie die foto's. En dis juis lig en skaduwee wat atmosfeer aan foto's gee.

Teen hierdie tyd het niemand egter meer lus vir my smartfoto's nie. Die son sak vinnig. Ons verskuif van posisie. En net nadat ons vir Liezel op haar volgende posisie geplaas het gil sy 'n deurborende primitiewe angsgil...

 

Lees volgende keer verder.

 

 

Views: 175

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Tersia Weitsz on May 26, 2011 at 6:42am
Igno, vir ons mense wat te ver is om kursus te doen, is jou stasie besoek heerlik, jy neem ons saam en deel ons ook in die lesse.  Ek sien al hoe meer dat ek geleenthede miskyk en myself blind staar in die soeke om iets oorspronklik en besonders af te neem.  Dankie, hou so aan!
Comment by Igno van Niekerk on May 19, 2011 at 8:24pm
Hallo Frans & Susan. Baie dankie vir die terugvoer. Ek waardeer dit! Groete, Igno
Comment by Susan on May 18, 2011 at 11:27pm
Ai Igno, jy kan 'n storie so lekkerrrrrrrrrrr skryf en ek geniet hulle almal vreeslik.  Dankie sommer vir die lesing wat so saam met jou storie gaan. 1,2,3 sommer in een.  Ek wag nou angstig op die volgende episode..........  moet asb nie te lank wag voor jy verder vertel en wys nie.  Ek hou vreeslik baie ook van die wit en swart efek van die foto's.
Comment by Frans van Heerden on May 18, 2011 at 8:00pm

Dankie Igno. Ek wonder waar het jy lesings oor "edutainment" bygewoon.Want,

 waar ookal en met wie ookal, een ding is seker, jy het baie mooi geluister. Knap gedaan en n heerlike lees plesier. Dis amper iets wat n mens aan wil pruim - kou en kou en herkou......

Comment by Igno van Niekerk on May 18, 2011 at 7:23pm
Nee wat Jannie, ek dink nie hy gaan kans kry nie. Hy is besig om sy hamster uit sy wynglas te probeer kry :-)
Comment by Jannie Labuschagne on May 18, 2011 at 7:14pm

Igno, Moet nou net nie laat Charles die een lees nie :-)

Comment by Igno van Niekerk on May 18, 2011 at 5:53pm
Hallo Gerhard  - dankie vir die terugvoer. Ek waardeer. Groete, Igno
Comment by Gerhard Beukes on May 18, 2011 at 5:43pm
Igno behalwe vir die kamera werk wat van die beste is, is jy ook 'n skrywer van formaat.
Comment by Igno van Niekerk on May 18, 2011 at 5:18pm
Dankie, Jannie - bly as jy dit geniet! Ek belowe alles is ook die waarheid :-) Groete, Igno
Comment by Jannie Labuschagne on May 18, 2011 at 5:01pm
Igno jou blogs is uitstekend en ek geniet dit baie.

© 2019   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html