Die Tsitsikamma, Dalene Matthee se Boom en Foefieslaaids

Die afgelope Desembervakansie het ek, my man en van ons familielede die voorreg gehad om bietjie rond te rits en die wondermooi van die Tsitskikamma-woude te ervaar. Daar heers ‘n byna gewyde atmosfeer in die rustige, koel skadu van die mosgroen bome. Mens voel lus om jou wang teen ‘n bosreus se skurwe stam te lê en die bosreuk diep in jou longe in te adem sodat jy die aardse geur en die grootse oomblik in jou geheue kan vaslê vir later se opdiep.

Om wyle Dalene Matthee se grootboom met my eie oë te aanskou was beslis vir my ‘n hoogtepunt. Die skryfster van die geliefde bosboeke, Kringe in ‘n Bos en Fiela se Kind, het glo gereeld by die ‘Big Tree’ gaan sit en wag op inspirasie. My man het sy hand uitgesteek en aan die dik stam geraak. “Om te dink ek raak aan ‘n lewendige iets wat 1000 jaar oud is,” het hy met groot ontsag opgemerk.

Ons het ‘n draai by Stormsrivierbrug en Stormsriviermond gemaak en die wondermooie natuurskoon daar bewonder. Die staproete deur die woud en oor die hangbrug was ‘n belewenis! Om elke hoek en draai wag ‘n nuwe ontdekking. Daar is die onverwagse glimpse op die blou-blou see en die branders wat spierwit en skuimend teen die rotse breek; die dassies wat uitgevreet en vet in die son lê en bak; die klein watervalletjie wat raserig in die poel in die grot neerstort; die ragfyn varings; die spierwit varkore…

Ons was by Monkeyland Primate Sanctuary en het ons verkyk aan al die verskillende spesies apies wat lustig in die boomtakke swaai en speel en smaaklik weglê aan ‘n fees van vrugte. Ons het ons omtrent verstom aan die primate se ondelinge interaksie met mekaar en telkens geskater vir hul lawwe kapperjolle. Die personeel het ons vriendelik ontvang en ons vrae met groot geduld en entoesiasme beantwoord. Ons sal beslis weer vir die apies gaan kuier!

Birds of Eden was volgende op die lys. Voëls van Afrika vlieg vrylik rond onder ‘n koepel wat oor twee hektaar strek. Dit was ‘n belewenis om soveel verskillende spesies voëls van naderby te kon aanskou – na raming is daar tans 3,500 voëls in die toevlugsoord. Kort-kort het ‘n opgewonde uitroep opgeklink wanneer ‘n besoeker ‘n ander voëlsoort iewers tussen die boomtakke ‘ontdek’ het. Klein apies baljaar ook tussen die takke van die inheemse woud en bokkies wei in die skadu onder die bome. ‘n Nuuskierige kraanvoël het ons geselskap heelpad agtervolg – hom seker verbeel hy’s ons gids!

Jukani Wildlife Sanctuary met sy leeus, tiere, luiperds, rooikatte, ens. was ook ‘n hoogtepunt. Die diere word in groot kampe aangehou en hul het genoeg privaatheid om hul te onttrek indien hul nie lus is vir die tweepotiges se aandag nie. Ek het bv. nooit besef hoe groot ‘n tier in lewende lywe is nie en was stomverbaas om aangesig tot aangesig met so ‘n ou grote te verkeer. ‘n Blinkswart puma het lui uitgestrek in die mik van ‘n tak gelê en selfs op ‘n afstand kon ek die ongelooflike smaraggroen van sy oë sien blink. Die vuilbaarde het ‘n reukie gekry van die hoenders wat op hul spyskaart vir aandete was en hulle het op en af teen die heining geloop en brul van pure opwinding.

Ons het veral die versameling slange wat in glashokke aangehou word, interessant gevind. Die dametjie wat met die slange werk se kennis oor en liefde vir die reptiele is baie inspirerend en sy kon al ons vrae insiggewend beantwoord.

Volgende aan die beurt was foefieslaaid ry by Tsitsikamma Falls Adventure. Dis die lekkerste lekker om te ‘zipline’ en die aktiwiteit is beslis hoogs aan te bevele! Daar is agt glybane waarvan die langste 211 meter is en op plekke gly jy 50 meter bo die grond. Die uitsig is fantasties! Mens gly sig-sag oor die rivier, ‘n waterval en kloof en swiep verby boomtoppe en kranse. Daar is nie kans vir bangwees nie. Jy trek jou harnas aan, word vasgegordel en daar trek jy! Ons gaan definitief later vanjaar wéér so maak…

‘n Bootrit op die Knysna-meer was die perfekte kersie op ons wegbreek-koek. Dis ‘n magiese ervaring om op ‘n boot op die water te wees en die natuurskoon vanuit so unieke hoek te waardeer. Ons woon voorwaar in ‘n pragtige land en al die toeriste waarmee ons gesels het, het dit beaam. 

Ons was deurentyd beindruk met die vriendelikheid en professionele gedrag van die gidse by al ons bestemmings. Hul het daartoe bygedra dat ons belewenisse en avontuur ekstra spesiaal was. Ek is net spyt dat ek nie hul name neergeskryf het om hul persoonlik te bedank nie.

Dit skud die deursnee Suid-Afrikaner se sak om al hierdie plekke te besoek. Oorsese besoekers vind natuurlik baat by die wisselkoers wat in hul guns tel. Dit was ‘n duur ekskursie, ja, maar ‘n onvergeetlike een. Ons het letterlike honderde foto’s geneem en selfs ‘n DVD-opname laat maak van ons foefieslaaid-avontuur. Spaar jou geldjies en neem jou voor om hierdie pragplekke vorentoe te besoek.

Indien jy van my skryfwerk hou, gaan lees en volg gerus ook my blog by www.eksemplaar.wordpress.com

Hier volg skakels na die wonderlike bestemmings wat ons besoek het.

http://www.birdsofeden.co.za/index.php

http://www.tsitsikammaadventure.co.za/

http://www.monkeyland.co.za/

http://www.jukani.co.za/

Views: 134

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Tersia Weitsz on January 27, 2015 at 5:16pm

Dankie vir die interessante stuk oor al die mooi plekke, nie almal maar van dit is nou op my lysie van plekke wat besoek moet word.

Comment by Louise Viljoen on January 23, 2015 at 5:00pm

Baie dankie, Elna, dat jy my skryfstuk gelees het en van waarde gevind het.  Ek hoop van harte jul wegbreek gaan ongelooflik lekker en vol avonture wees en dat jy honderde foto's gaan neem... As jy hou van my skrywerasies, gaan loer gerus na my blog www.eksemplaar.wordpress.com   Lekker middag verder.

Comment by Elna Geringer on January 23, 2015 at 10:20am

Baie dankie Louise vir die lekker leesstof. Ons vertrek dv 31/01 juis op n toer na die wes Kaap toe en gaan vir 5 dae in die Knysna omgewing wees. Die bos is sommer hoog op my lys.

As julle die zipline geniet kan julle ook gaan kyk na die een wat nou by die Oribi Gorge is. Dit is net so asemrowend mooi

© 2018   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html