Toe ek my kamera so twee jaar gelede gekoop het, ('n Canon 450D), was die enigste goeie lens wat ek beskikbaar gehad het 'n 60mm makro lens en uit die aard van die saak het ek hoofsaaklik die klein goedjies afgeneem. Ek bly in Hogsback en blomme is in oorvloed. Een dag was ek besig om 'n rooi  Fuschia blom af te neem toe 'n klein soort heuningby sy ontbyt kom haal. Ek was opgestel met 'n driepoot, en sluiterspoed en f-stop was reg ingestel. (F11, ISO200, 1/250 sek) Ek het nog twee goed gedoen om kamera beweging uit te skakel nl, ek het 'n kabel-afstandbeheer gebruik om die sluiter te aktiveer en het die "mirror lock up" geaktiveer gehad. Die by was my goedgesind en het my toegelaat om die driepoot naby te skuif. Ek kon per hand fokus en 'n paar skote skiet voordat sy ontbyt klaar was. Foto 1 was die resultaat. Dit was ook die laaste keer dat ek genoeg tyd gehad het om op te stel en te skiet.

Foto 1

Die volgende uitdaging het begin toe ek die afgelope lente vlinders gefotografeer het. Ek het gevind dat hulle nie weet van poseer nie en dat hulle nie wil toeaat dat jy naby hulle kom nie. Hulle sal gaan sit en net as jy gereed is versit hy na die volgede blom. Die "Emporer" vlinder waarvan ek die foto insluit het ek gekry nadat ek 'n geruime tyd vir hom by 'n rooi malva blom gewag het. Dit was 'n sonnige oggend en ek kon vooraf my instellings doen. Met hierdie vlinder het ek twee lesse geleer: Let op hoe die insekte optree, wag vir hulle en wees geduldig. Ek het oor 'n tydperk van ongeveer 'n uur 'n hele paar fotos geneem gekry. Ek het nog steeds die 60mm makro lens gebruik  Ek sluit een in. (f9.5, ISO200, 1/250 sek. fokus outomaties, enkelskoot, middelpunt)

Emporer vlinder

Die werklike uitdaging het begin toe ek probeer het om insekte in die vlug af te neem. Ek het 'n klompie pers Plectranthus blomme op my erf en ek merk toe 'n klompie insekte wat gereeld daar ronddraai en nektar drink. Ek het pas 'n 100mm Canon makro lens en ook 'n Canon 100-400mm zoom lens bekom en ek het besluit om hulle op die proef te stel. 

Die fotos hier onder is almal met die 100mm makro lens geneem. Ek het die 100-400mm zoom ook probeer, maar omdat die minimum fokus afstand 1,8 meter is, en die insekte baie klein, het dit geen voordeel ingehou nie. Omdat dit 'n swaar lens is, was dit ook vir my moeiliker om die insekte te volg en die lens stil te hou.

Uitdagings:

1. Die insekte beweeg baie vinnig tussen blomme en is vir slegs 'n sekond of twee stil terwyl hulle voor die blom hang voordat hulle vir 'n weer vir 'n sekonde of twee drink.

2. Die blomme was in die skaduwee en dit was nodig om 'n flits te gebruik. Ek was dus beperk tot een skoot op 'n slag met 'n paar sekondes wagtyd tussen skote.

3. Die insekte is klein en mens kan nie naby hulle kom nie.

4. Driepoot werk is nie moontlik nie. Die kamera moet in die hand gehou word.

 

Ek het eerstens 'n "tangle wing fly" probeer afneem en uiteindelik 'n hele paar aanvaarbare skote gekry waartussen ek moes kies. Ek sluit vier fotos in. Die vliegies is ongeveer 8-10mm lank. Die fotos is volgens my keuse in orde van meriete. Ek hoor graag kommentaar oor die orde wat ek gekies het.

Toe ek die fotos beoordeel het, het ek die volgende dinge opgemerk:

  TWF 1: Die agtergrond is baie uit fokus en baie eenvoudig. Die vlieg staan dus goed uit en mens se aandag word nie van die hooftema afgetrek nie.

             Die pers kolletjies regs bo balanseer die blom links onder.

             Die feit dat die vlieg se slurpie net-net nie aan die blom raak nie bring 'n groot klomp spanning in die foto.

             Die vlerke wat nie heeltemal skerp is nie dui op beweging wat aansluit daarby dat die vlieg die blom nader, maar nog nie daar is nie. 

             Die slurpie en oog is bae skerp.

           As negatief het ek beoordeel dat die agterlyf nie so skerp is as in die ander fotos nie, maar die ander positiewe aspekte het swaarder geweeg.

 

Tangle wing fly 1

 

 

Tangle wing fly 2

Beoordeling TWF 2.Volgens my net 'n kortkop agter TWF1.

Tegnies net so goed of selfs beter as TWF1.

Die besige agtergrond trek bietjie aandag af.

Die slurpie het reeds die blom bereik - minder spanning.

Tangle wing fly 3

Beoordeling TWF 3.

Tegnies baie goed. Selfs die haartjies op die lyfie goed sigbaar.

Die agtergrond nie so uit fokus as TWF 1.

Slurpie raak reeds aan blom.

 

Tangle wing fly 4.

Beoordeling TWF 4:

Fokus baie skerp. Skerpste van al die fotos, behalwe vir die voorste deel van die slurpie.

Slegs een vlerk sigbaar.  Dit laat die vliegie ongebalanseerd lyk.

Die agtergrond baie besig.

 

 Die tweede groepie insekte (by-vliegies) wat ek gefotografeer het was nog kleiner. Hulle is ongeveer 5-7mm lank et 'n deursnit van 2mm.  Die by-vliegies het 'n klompie Plectranthus blommetjies gereeld besoek en ek het maar vir hulle staan en wag tot hulle binne trefafstand gekom het. Ek het die kamera in die hand gehou en die insek so goed as moontlik gevolg. Die fokus was op servo gestel met slegs die middelste fokuspunt operasioneel. (Ook vir die "tangle wing flies".) 'N groot probleem was dat die goedjies so klein is dat die fokuspunt hulle grootliks bedek het. Hulle beweeg ook baie vinnig en slegs as hulle by 'n blom parkeer om nektar te drink is hulle vir 'n sekonde of twee redelik stil. Om hulle in daardie oomblik te vind en te fokus is nogal moeilik. Ek het twee soorte afgeneem en ook 'n paar aanvaarbare skote gekry. Ek bied hulle ook aan in orde van meriete (volgens my oordeel) Weereens ontvang ek graag kommentaar oor my keuses. Ek kon fokus op een by 'n blommetjie en net toe ek die sluiter druk het hy weggeskiet (foto 1). Ek was gelukkig dat die fokus gehou het. Ek het van die kamera se pop-up flits gebruik gemaak (dit is al flits wat ek tans het) en was dus beperk tot 'n maksimum sluiterspoed van 1/200ste van 'n sekonde. Die f-stop was f8.

By-vlieg 1

Beoordeling:

Die agtergrond trek niks af van die hoof tema nie. Dit is baie eenvoudig en totaal uit fokus.

Die kleure van die agtergrond komplementeer die kleure van die by-vlieg perfek.

Die pers kol is perfek geplaas want anders sou die vliegie se swart snoet teen die donker agtergrond weggeraak het.

Die baie diffuse vlerke gee die indruk van spoed.

Wat merkwaatdig van die foto is dat alhoewel ek baie moes "crop", dit nog steeds baie skerp is.

Die oorspronklike foto was 5MB groot en die een bo sles 180KB.

By-vlieg 2

Tegnies goed, maar meer staties as B-V1.

Agtergrond kleure minder komplementerend.

 

By-vlieg 3

Beoordeling:

Tegnies die beste. Baie skerp fokus.

Minder dinamies as B-V 1 en B-V 2

 

By-vlieg 4.

Beoordeling.

Minder skerp as die ander.

Te ver van die blom af. Min spanning.

Agtergrond kleure minder komplementerend.

 

By-vlieg 1. Loshande die beste volgens my beoordeling.

 

Redigering.

Ek het slegs Lightroom 3.2 gebruik. Geen Photoshop werk.

Ek moes baie "crop"

By al die fotos moes ek die "sharpening" funksie redelik opstoot en dan die "noise reduction" gebruik om die geraas wat "sharpening" veroorsaak te verminder. Dit was veral die geval by by-vlieg 1. "Noise reduction" maak gewoonlik die skerp kante sag. In hierdie geval het dit egter nie gebeur nie.

 

 

Ten spyte van die tyd wat dit geneem het om hierdie skote te kry was dit tog baie bevredigend.

Ek ontvang graag kommentaar en advies.

 

 

Views: 888

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Josef Steyn on June 16, 2011 at 9:11pm
Johan as ek kan, dan help ek graag. Jy moet net die woord spreek. My fotos van die vliegende insekte was maar 'n geval van "mog het troffe" want hulle wil nie luister as ek hulle vra om tog net so 'n bietjie stil te sit nie. Jy gaan jou makro (of in Nikon terme "mikro") lens baie geniet want dit is 'n baie goeie lens.
Comment by Johan van Zyl on June 16, 2011 at 8:35pm
My 105 mm macro lens is oppad as hy hier is gaan ek jou baie pla ou maat want jy het my ook lus gemaak om sulke klein goedertjies af te neem
Comment by Frans van Heerden on April 15, 2011 at 6:25pm

Hi Josef

Jy he baie goed daarin geslaag om my te motiveer om ook my lens op insekte te rig, baie dankie. Ek dink jou self kritiek is baie goed en leersaam. Ek hou bv, van die konsep wat jy beskryf as."dit skep spanning" en die verwysing na "balans" asook die beskrywing van "staties".

Ek wonder nogal hoekom jy die meeste v Lightroom eerder as PS gebruikgemaak het? EK stem volmondig met jou saam, BY Vlieg 3 is ook my keuse vd beste foto. Knap gedaan en baie dankie

Frans

Comment by Anet Potgieter on April 11, 2011 at 12:03am
Dankie Josef. gaan daarna oplet. jou fotos baie mooi.
Comment by Josef Steyn on April 10, 2011 at 10:07pm

Jannie, Martie en Anet,

Dankie vir jul opmerkings.

Ek het intussen nog 'n paar belangrike aspekte (die evaluering van die fotos) bespreek. Julle kan gerus daarna kyk.

Josef

Comment by Jannie Labuschagne on April 10, 2011 at 9:20pm

Josef

Ek dink jou fotos is uitstekend. Ons kan baie by jou leer. Ek wil ook nog vir my 'n macro lens koop en kan nie wag as ek al die pragtige fotos van julle sien nie.

Comment by Martie Venter on April 10, 2011 at 9:01pm
Baie dankie vir hierdie uitstekende blog - baie insiggewend, ek het self al probeer om insekte af te neem en dis glad nie so maklik nie!
Comment by Josef Steyn on April 10, 2011 at 6:49pm
Dankie Igno. Dit was vir my 'n eerste en ek het dit geniet. Ek sal egter graag van die makrokenners wil hoor of hulle saamstem met my die orde waarin ek die fotos geplaas het.
Comment by Josef Steyn on April 10, 2011 at 6:45pm

Hallo Anet,

Dankie dat jy die blog gelees het.

Ek ken nie die Sigma lens nie, maar ek wonder of jy nie net te naby aan jou voorwerp is nie. Ek vind ook met my Canon lens dat as jy te naby kom wil hy nie fokus nie. Ook as die lig baie swak is soek lense in die algemeen vir fokus. Kyk bietjie in die spesifikasies van die lens wat die minimum fokusafstand is. Nog iets wat jy kan oorweeg is die aantal fokuspunte wat geaktiveer is. As al die fokuspunte geaktiveer is mag die lens vir 'n ander fokuspunt soek. As net een fokuspunt geaktiveer is mag dit wees dat die punt afgedwaal het van die voorwerp wat jy wil afneem. Toe ek die insekte fgeneem het het ek baie gesukkel daarmee. Soms net as die fokus amper reg was, het die insek versit na 'n ander blom en die lens het dan op iets in die agtergrond gefokus. Om dan weer op die insek gefokus te kry by die nuwe blom was soms moeilik en tydrowend. Ek hoop dit help. Laat weet asb.

Comment by Anet Potgieter on April 10, 2011 at 3:27pm

Josef

ek het n Sigma macro lens 105mm 1:2.8

macro is vir my baie bevredigend maar eks dom met die lens. as ek baie naby n voorwerp gaan en my focus is in voor ek kan neem gaan die beeld van self uit fokus. is dit n setting of doen die lens dit? my lens is op AF gestel en FULL mode

dankie v raad

© 2019   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html