Nog iets nuut.
Ek wil julle eers ‘n bietjie meer vertel van my skoolloopbaan hier by Fotoskool. Hierdie blog is ook ‘n eeste vir my, maar ek het nou eenmaal besluit om my vlerke te sprei en ek is nie skaam om foute te maak en so daardeur te leer nie.

Soos Mariska onlangs in een van haar blogs vertel het, is ek ook knoppie-happy as dit kom by foto’s neem. As ek ‘n mooi prentjie sien, raak my kop aan die raas en dan druk ek net aanmekaar die knoppie sonder om eers te dink aan goed soos kontras en komposisie en wat nog alles. Soos jy Mariska, het ek ook omtrent 300 foto’s geneem tot by die eerste stopstraat en moes ek die afgelope paar weke besef dat ek nie soos my Fox Terrier my been teen elke bos moet lig nie, maar eers moet ruik of die bos die regte komposie en kontras het, voor ek laat gaan.

Iemand het onlangs gesê die ding waaroor hy die meeste spyt kry, is wanneer hy ‘n mooi foto sien en nie kon stil hou om dit af te neem nie. Al gaan jy terug, is die foto nie meer daar nie. So Mariska, dit klink vir my of ons tog maar ons vingers op die knoppies moet hou net vir ingeval daardie mooi foto voor ons inspring.

Ek is nog maar in my tandekry stadium van fotografie en weet regtig niks van Photoshop af nie, so ek waardeer die ekstra raad, kritiek en hulp baie, want daardeur het ek die afgelope weke baie geleer. In die begin het ek al my foto’s net so ingestuur, maar na ‘n hele paar skewe horisonne en raad oor komposisie, het ek agter gekom dat daar iets is soos ”crop” wat darem kan help om die ergste foute reg te dokter. Ek het ook geleer om nie net die knoppie te druk nie, maar seker te maak die horison is reguit.

Die volgende ding waarmee ek toe te doen kry is soos Anita dit stel: “ ek word belas met kontras”. Asof dit nie genoeg is nie, kom Hennie te voorskyn met “dodge” en “highlight 5%” en ek dog by myself – waarin het ek my begewe. Ek gee nie maklik tou op nie en ek bel die jonger generasie om hulp te kry. My dogter, Maryke, herinner my aan You Tube. Ek kry ‘n video wat my heelwat leer oor “dodge” en “burn” en selfs ”sponge”. Nou kry my selfvertroue weer ‘n hupstoot en ek oefen en alhoewel dit nog ver van reg af is, weet ek nou van nog iets op Photoshop wat my kan help om my foto’s te verbeter. Toe Hennie die volgende foto afskiet met ‘n paal wat te wit is, weet ek darem die “burn” tool kan dit ‘n bietjie donkerder kry. (Hennie baie dankie vir die bietjie ekstra verduidelik en tyd wat jy insit. Dit het baie gehelp.)

Ek plaas ‘n foto van ‘n Houtkapper en die volgende raad wat ek van Kosie kry is dat ek die takke moet “clone”. Ek sê vir myself – You Tube hier kom ek. So kan ek aangaan met JJJ wat my leer om te kyk en weer te kyk dat die wasgoedlyn ‘n paal moet hê en nie in die lug kan hang nie. Dit is die klein dingetjies wat op die op end ‘n “stunning” foto maak.

Ek het voorheen gesê ek neem nie voëls af nie, want behalwe dat hulle so klein is sit hulle nooit stil nie. Na ek die verskriklike mooi foto’s van voëls op Fotoskool gesien het, het dit my so geïnspireer dat ek ook nou probeer om voëls af te neem. Toe kom Liz met haar goggas en sy maak ‘n nuwe ding in my wakker om dieper te kyk na die nog kleiner dinge in die lewe. Nog fotoskolers inspireer met smarties, balonne en liggies aan dakwaaiers. So kan ek aangaan en aangaan.

Ek stuur baie van my eerste foto’s in net om te leer sodat ek volgende keer nie weer dieselfde fout maak nie. So hierdie blog is net om al my fotoskoolmaats te salueer vir elkeen se bydrae om my te help groei in my poging om net nog beter foto’s die lig te laat sien.

Groete
Maronel

Views: 105

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Elizbé Lombard on August 3, 2012 at 3:33pm

So, waar en om alles te kroon is ek nog 'n paar lesse agter mamma. Sal maar weer 'n trippie St Lucia toe moet neem en heel pad vir my foto lesse gee.

Comment by Maronel Steyn on August 1, 2012 at 5:45am

Dankie Jimmy, ek waardeer altyd jou kommentaar.

Comment by Maronel Steyn on July 29, 2012 at 6:37pm

Dankie Anita, Mariska en Tina.  Dis lekker om te hoor julle kan julle hiermee vereenselwig. 

Comment by Tina le Grange on July 28, 2012 at 9:45pm

Maronel baie dankie;  ek kan net "ditto" sê op jou blog.  Jy het dit so oulik gestel, soos Gerrie met haar rympie.  Ekself het nog nie die Photoshop program gekoop nie en toor nog met my kamera se programme. Dankie dat ons so lekker by mekaar kan leer !!

Comment by Mariska Cilliers on July 27, 2012 at 10:53am

Maronel dis vir my die wonderlikste ding as iemand so 'n blog plaas.  Want dit beteken net een ding : Fotoskool werk!!!  Igno het 'n wenner hier beet.  Baie dankie vir jou deel.  Ons kan almal met iets in jou blog vereenselwig.

Comment by Anita du Toit on July 27, 2012 at 10:41am

Dankie vir jou blog Maronel, dit voel of ek dit self geskryf het, ek is net nie so goed met woorde nie!! Cloete Breytenbach het op Kwela gese sy fotoloopbaan was 'n jol, hy sien uit na die "anderkant" hy wens net hy kan sy kamera saamneem! Ek dink dit kan van ons almal gese word wat fotografie geniet, en ek is so bly vir fotoskool wat ons help slyp om dit "reg" te doen.

© 2020   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html