Geseende Kersfees (nuutste korrespondensie)

Hallo Fotoskolers,

Ek hoop dat elkeen van julle 'n jaar van wonderlike foto-oomblikke gehad het, en dat julle kan uitsien na 'n vreugdevolle Kerstyd en rustyd.

Ek wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om elkeen van julle te bedank vir die bydrae tot fotoskool wat julle lewer. Dit is ongelooflik om te sien watter pragtige foto's daar daagliks verskyn, en dan nog om die kommentare te lees, en te sien hoe konstruktiewe kommentaar met 'n positiewe gesindheid gelewer word.

Dan is daar natuurlik een persoon waarsonder fotoskool werklik nie kan klaarkom nie, en dit is Hennie Cronje. Ek dink elke persoon op fotoskool kan 'n digitale applous gee vir Hennie se getroue kommentare, sy afrigting, sy hulpvaardigheid en sy besonderse manier van mense se potensiaal ontsluit. En dan is daar sy besonderse foto's waarmee hy telkemale mens se asem wegslaan.

Saam met Hennie is daar die getroue en hulpvaardige Josef Steyn en Lientjie. Vir my is een van die wonderlikste dinge van fotoskool dat ek Josef persoonlik kon ontmoet en (al sommer 'n paar keer) by sy pragtige gastehuis in Hogsback kon tuisgaan. Elke liewe keer 'n fantastiese ervaring. Julle sal ook saamstem dat Lientjie altyd bereid is om in te staan as Hennie op een van sy wereldreise gaan - en dat dit ook altyd 'n voorreg is om van haar te leer - hetsy op een van haar werkswinkels of wanneer sy kommentaar lewer. (So tussen hakies, moenie vergeet dat Lientjie volgende jaar op Hogsback 'n kursus aanbied nie! - loer gerus by die blogs op fotoskool)

Dan is daar die gereelde klomp kuierkouse wat soggens vroeg en saans met hoenderkraai-tyd lekker klets terwyl hulle hul foto's laai, sowel as die getroue lede wat hulleself al as ondersteuningspan vir nuwe lede begin uitleef het. Vir elkeen van julle wil ek baie, baie dankie se - fotoskool het 'n unieke gees wat die gevolg is van almal se bydraes, van die swygende introverte wat stil-stil loer en aarselend foto's laai, tot die kletskouse wat nie kan wag om 'n bydrae te maak nie.

Vir die van julle wat nog 'n laaste kersgeskenk vir jouself of ander fotograwe soek, moenie vergeet van Hennie en Josef se fantastiese gids tot fotografie nie - dis 'n wonderlike, leersame en uitstekende werk oor fotografie. Die skakel is http://www.hogsbackinfo.co.za/superphoto/

Wel, van my kant af - ek hoop julle rus lekker. Vir die wat nog werk - hou julle kameras byderhand, mens hoef nie op vakansie te wees om wonderlike foto's te neem nie!

Groete

Igno

Views: 186

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Doretha Kock on January 4, 2016 at 9:40am

Ditto op alles gesê. Dankie is 'n klein woordjie, met baie betekenis en dit kom uit die hart. BAIE DANKIE aan almal.

Comment by Tersia Weitsz on December 28, 2015 at 5:22pm

Igno, baie dankie vir die voorreg om deel van die skolers te kan wees, ons het al hier soveel wonderlike vriendskappe gemaak en van die medeskolers ontmoet.  Om van leer en inligting te deel praat ek nie eers nie!  Dankie aan Hennie, Josef en Lientjie vir getroue en positiewe bydrae en hulp.  Van vroegoggend tot laat saans klets en kuier ons heerlik hier, dankie daarvoor aan my mede kletskouse hier op fs, julle is wonderlik en seenwense vir die nuwe jaar aan elkeen

Comment by Karen Kemp on December 26, 2015 at 11:54am

Wat n wonderlike voorreg is dit om deel te wees van wonderlike groep mense...van my kant af ook n GROOOOOOOOT dankie vir n kosbare leerforum!!!

Comment by Gerrie Lambrechts on December 24, 2015 at 4:57pm

Igno, jy is seker al deeglik bewus dat hierdie 'skool' al baie 'skolers' bymekaar gebring het, en dat ons almal lekker e-vriende is. Seënwense vir jou en gesin.  Mag FotoSkool in 2016 uit sy nate bars.  Ons is en bly jou altyd dankbaar.  Vir Hennie, Lientjie en Josef en almal se opbouende kommentare kan ons net dankie sê.  Fotoskool het my fotografie nog meer as stokperdjie gemaak. Groete.

Comment by Dawid Roos on December 24, 2015 at 8:38am

Dankie Igno...ja Hennie is baie werd vir ons. Geseënde tyd vir jou en gesin en dankie vir die webwerf..

Comment by Igno van Niekerk on December 23, 2015 at 2:33pm

Hallo Anita,

Die wonder van Hennie is dat fotoskool op hierdie stadium 'n nie-winsgewende webwerf is, en dat hy al die kommentare uit vrye wil in sy eie tyd doen. Ek weet nie eers hoe om hom te wys hoe dankbaar ons vir sy liefdeswerk is nie! Dit is net 'n wonderlike voorreg om paaie te kruis met mense soos hy!

Groete

Igno

Comment by Anita du Toit on December 23, 2015 at 11:17am

Dankie vir jou mooi wense, ons geniet Fotoskool terdee! Ek het die skolers gepols om vir Hennie "af te gee" gedurende die feestyd, maar weet nie wat se geldelike implikasies.. as daar is.. dit tot gevolg het nie, so jy moet maar die laaste se he. DIe meeste is ten gunste daarvan, die meeste van ons het ons eie bedrywigheid nou aan die gang, en daar is baie minder foto's wat nou geplaas word. Lees onder Forum by "Kerstyd" al die kommentare asb. Seenwense ook vir jou en jou gesin hierdie feesseisoen.

Comment by Pieter Steyn on December 22, 2015 at 6:33pm

Baie dankie Igno - selfe goeie wense word aan jou en gesin oorgedra. Ja - nee fotoskool is die plek om te wees - leer baie so tussen die geklets en kommentare deur. Is lekker om sommer vinnig vraag te vra en terugvoering sal daar gegee word. Stem saam ons kan nie genoeg dankie sê vir jou wat dit moontlik maak nie en vir Hennie en Lientjie se kommentare/kritiek/raad nie. Altyd iets te lere daaruit.

Vertrou almal sal rustige en veilige vakansie deurbring ( die wat gaan) Tuisblyers maak die beste van die omstandighede.

Seënwese vir almal

© 2019   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html