Hoe om 'n groepie mense met een flash af te neem

Ek is gevra om Corine se vraag en die antwoord in a Blog om te skakel en ek doen dit met graagte.

 

Soms kom mens in 'n situasie waar jy gevra word om klein groepies mense af te neem soos in Corine se geval by 'n 21ste verjaarsdag geleentheid. Die probleem is : jy het net een flits! Een flits gaan bietjie problematies wees om die volgende redes :

1 - Een flits gaan skadus gooi teen die agtergrond (muur ens)

2 - Die flits se klein ligbron gaan harde lig op die modelle gooi

3 - Jou batterye gaan dalk nie lank hou nie en jou "recycling time" gaan dan al hoe langer word. Indien jy nie weet wat die "recycling time" is nie - dit is die tyd wat dit neem vir die flits om weer te "herlaai" voor hy weer die volgende foto reg kan belig.

 

Sien 'n vorige antwoord hier : http://fotoskool.co.za/forum/topics/hoe-gemaak-met-opvoerings-in-n-....

Lees ook dalk net deur die volgende : http://fotoskool.co.za/profiles/blogs/remote-flash-afstand-beheerde

Baie van die beginsels geld ook hier.

 

Niks is onoorkomlik nie en dit kan gedoen word.

  • Een manier is om die flits van 'n lae plafon af te bons. Dit het die effek van 'n groter ligbron wat terselftertyd die lig versag. Met die metode gaan jy egalige lig kry sonder te veel skaduwees. Maak seker die plafon is nie gekleurd nie, anders gaan jou fotos 'n kleur-skakering bykry wat ongewens gaan wees.
  • Indien jy 'n wit muur agter jou het, kan jy jou flits agtertoe stel en dan dit as 'n ligbron gebruik

Indien jy nie die flits kan bons van 'n lae-erige plafon of muur agter jou nie, kan die volgende ook werk.

 

Haal die flits van die kamera af indien jy die flits met afstand kan beheer. Sien 'n vorige Blog oor die aspek vir inligting. Plaas die flits op 'n driepoot so ongeveer 30-45grade skuins voor die modelle (nie te ver nie). Flits nou deur 'n deurskynende sambreel (Nie die heeltemal deurskynende tipe nie, ek bedoel hier een wat van 'n witterige materiaal gemaak is). 'n Weerkaatser se wit gedeelte kan ook suksesvol gebruik word.

Die doel is hier om jou ligbron groter en sagter te maak. Oorweeg dit om die flits op Manual te plaas om verskille in beligting met TTL uit te skakel (Die flits gaan die beligting verander tussen die donker en ligte kleure van jou modelle, jou agtergrond gaan dan ook dienooreenkomstig verander). Gebruik dan die flits op so 1/2 na 3/4krag - eksperimenteer gerus hier. Die vertrek waarin jy jou bevind gaan die aspek heelwat be-invloed.

 

Plaas jou kamera op manual soos verduidelik aan Annelise en doen heelwat toetsskote voor die tyd om jouself gemaklik te maak met die settings.

 

White Balance

Gebruik gerus Auto White balance, maar vir 'n akkurater balans gebruik liefs die Flash verstelling. Hou net in gedagte enige kleurveranderings as gevolg van gekleurde mure of plafonne

 

Beligting op foto

Hou jou histogram fyn dop. Moet nie die beligting skat oor hoe hy op die kameraskerm lyk nie - dit werk nie. Indien jou verstellings op manual met beide die kamera en flits korrek is, gaan al jou fotos dieselfde beligting hê en dis waarna jy mik.

 

Lense

Lense met 'n f-stop van f2.8 is wenslik weens die min lig waarmee jy gaan werk. Ander lense gaan uit die aard van die saak ook werk, maar jy sal dalk jou flitskrag of die ISO moet verhoog wat ook nie altyd wenslik is nie.

Werk op so 50 - 100mm, nie nader nie. Indien jy te naby staan gaan jy mense met groot neuse ens kry weens die vervorming van 'n wyehoek lens. Werk gerus op ISO 800 indien jy 'n nuwer generasie kamera het, dit gaan jou flits se batterye baie spaar. Met 'n ouer generasie kamera werk dan maar op ISO 400

 

Fokus

Met lae lig gaan jopu kamera dalk sukkel om akkuraat te fokus. Dit is presies hier waar die f2.8 lense hulle kant bring. Indien jy jou kamera op 'n driepoot het, kan jy oorweeg om vooraf te fokus met die hand (onthou dat jou modelle staan op 'n afgemerkte plek !) en die lens op manual fokus te laat. Al jou fotos se fokus is dan presies dieselfde

 

RAW of Jpg

Baie fotograwe is nie vertroud of gemaklik met RAW nie, en daar is niks verkeerd met Jpg nie. Dis darem nie nodig om net voor 'n groot geleentheid met iets nuuts te begin nie !. Met RAW het die fotograaf egter net meer speling om verskeie verstellings te doen op die finale foto. Lees die volgende Blog vir meer inligting hieroor : http://fotoskool.co.za/profiles/blogs/die-stryd-tussen-raw-en-jpg-1

 

Verdere gedagtes

Moet nie die flits te ver van die aksie plaas nie omrede jy beperkte sterkte lig het. Besluit ook wat wil jy vir die agtergrond gebruik. Probeer om iets interessants (lees minder lelik as 'n kaal muur ) te gebruik. Wees versigtig vir 'n steurende agtergrond en veral ook iets wat blink. Indien moontlik plaas jou modelle so 1,5 - 2 meter van die agtergrond af. Plak iets op die vloer om die plek waar hulle moet staan aan te dui.

 

Werk gerus met die toerusting wat jy het. Eksperimenteer en verstel tot jy verstellings kry wat werk. Niks is so bevredigend as wat jy met beperkte toerusting iets suksesvol regkry nie.

 

Neem maar genoeg gelaaide batterye vir flits en kamera saam. Moet nie Alkaline batterye (Duracels of Energizer) gebruik nie, slegs herlaaibare tipes (NiMh batterye - 2500 - 2700 mAh). Hulle hou baie langer.

Moet ook nie vergeet van spaar kamerakaartjies nie (Vooraf geformat asb !)

 

Gaan speel en oefen dalk vooraf met 'n gewillige model. Jy kan nie op die groot aand eers oefen nie, dan moet jy daar staan soos 'n ou Pro met 'n selfversekerde uitdrukking op jou gesig met al jou kennis van Fotoskool :-)

 

Groete

Views: 199

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Charles Whitehead on September 15, 2011 at 10:12am

Corene

Daai groep fotos lyk goed - ek is bly alles het goed uitgewerk

Comment by Corene van der Merwe on September 15, 2011 at 8:11am
Goeie more! Gustav het vir my 2 ligte geleen wat ek van die kante af laat skyn het. Toe het ek net my flash gebruik om van die dak af te "bounce". Ek het 2 groep fotos opgelaai. C
Comment by Charles Whitehead on September 14, 2011 at 11:10pm

Corene

Kon jy toe darem iets regkry en hoe het dit gegaan ?

Comment by Corene van der Merwe on September 14, 2011 at 3:50pm

DANKIE CHARLES!!!! xxx

 

Comment by Charles Whitehead on September 13, 2011 at 12:05pm
Anet - Dit is 'n plesier :-)
Comment by Anet Potgieter on September 13, 2011 at 9:50am
dankie Charles. dis nogal iets wat ek partymaal mee sukkel
Comment by Igno van Niekerk on September 12, 2011 at 8:42pm
Charles, dankie weer eens(!) vir 'n fantastiese blog! Ongelooflik leersaam! Ek dink almal kan baatvind hierby! Groete, Igno
Comment by Charles Whitehead on September 9, 2011 at 11:27am

Dana/Etienne/Andre

Plesier - ek hoop julle vind baat hierby

Comment by Dana Pienaar on September 9, 2011 at 10:50am
Dankie Charls. Dit gaan baie help in die toekoms as 'n mens nie 'ge-gear' is vir so iets nie en jy moet dit op kort kennisgewing doen.

© 2019   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html