Na aanleiding van 'n vraag deur Karen in die kletskamer deel ek graag weer een van my blogs oor kopiereg wat verlede jaar geplaas is...

Nou sommer voordat ek hier begin skryf wil ek uitklaar - ek het geen appeltjie met enige iemand te skil nie - ek wil niemand laat sleg voel nie, en ek hoop dat hierdie blog tot 'n baie sinvolle debat kan lei waaruit almal baie kan leer. En ek het spesifiek al mense gevra om te kom help met opmerkings sodat ons almal kan leer.

'n Paar jaar gelede staan ek op die lughawe in Johannesburg. My oog vang 'n tydskrif met die naam HEARTLAND. Die voorblad trek my aandag - maar GROOT is my verassing/verbasing toe ek die tydsrkif oopmaak.

Op die binneblad.

Volbladgrootte.

Is daar een van my foto's.

Erger nog - die foto word in 'n advertensie gebruik wat beteken IEMAND het WAARSKYNLIK die foto aan die adverteerder verkoop. Ek kan dit egter nie bevestig nie. Vir my was die skok groot genoeg. Net so tussen ons - my naam is nie eers vermeld as die fotograaf nie. Hier is die advertensie:

Ek het die redakteur gebel, sy naam was Charl Cilliers, en 'n afspraak gemaak. Nou ja, soos dit maar met hierdie dinge werk... Charl was pas aangestel en die vorige redakteur was weg. Hoe die foto by die adverteerder beland het, en of daarvoor betaal is...ek sal seker nooit weet nie. Al wat ek weet is dat ek op 'n stadium van my foto's op 'n CD vir iemand gegee het met die oog op moontlike publikasie - en daardie CD het seker vandag ook sy eie storie om te vertel :-)

O ja, die advertensie is toe nog 'n paar keer geplaas en ek het die "vergunning" gekry dat my naam daarby geplaas is :-)))

Wie se fout was dit?

Eerlikwaar?

Seker myne.

Mens moet seker nie net jou foto's die wereld instuur nie.

Al wat my vies gemaak het was die wete dat die foto dalk wederregtelik verkoop is...Ek kon seker darem 'n suigstokkie of iets gekry het:-))) Maar dit is iets waarvan ek nie seker is nie, so ek is eerder rustig as om met ontsteltenis in my gemoed te dwaal - die lewe is net te kort!

Nou, waar hierdie les dalk vir alle fotoskolers begin.

Gistermiddag kry ek 'n SMS uit Bethlehem van huisvriende van ons. "Een van jou foto's is in RAPPORT, kyk by WEEKLIKS op Bladsy 1."

Inderdaad.

Daar is my foto.

Sonder erkenning.

Ek het dadelik die Redakteur van WEEKLIKS geskakel. Sy eerste vraag was: "Het jy dalk die foto vir BEELD se kompetisie ingeskryf?'

Nou ja, ek het al foto's vir kompetisies ingeskryf maar nie altyd deur die fynskrif gelees nie. Weer eens my fout. Dalk nie heeltemal nie - ek het nog altyd aanvaar dat selfs as die foto vir kompetisie ingeskryf is en dan gebruik word sal jy as fotograaf erkenning kry. Ek was verkeerd.

Nou hier moet ek dit BAIE duidelik stel. Die redakteur van WEEKLIKS was uiters simpatiek en is self 'n amateur-fotograaf. Hy het dit verduidelik - as redakteur het hy toegang tot die argiewe en mag foto's gebruik. My foto was in die argiewe. Dit kon deur kompetisie of vele ander kanale daar gekom het.

Natuurlik, omdat die foto in die koerant was, is dit ook deur hulle webredakteur op RAPPORT se webwerf gebruik:

Ek het daarvan uitgevind, en ek moet se, die webredakteur was dadelik met my in kontak en bereid om die foto te verwyder, en/of erkenning te verleen. Maar hier is waar ek haar kant wil stel oor hoe maklik so iets gebeur...

Sien julle die foto hierbo...?

My foto?

Maar sien julle dat ek ook Rapport se logo hier ge-cut & paste het. Met ander woorde - doen ek nie ook verkeerd nie? Het cut&paste nie net te maklik geword nie? Hoe moeilik is dit om foto's van die internet af te gebruik? Dis een, twee, drie. Ek dink dit word vir joernaliste net so moeilik soos vir ons. En baie van ons doen dit...

'n Paar jaar gelede woon my Sussie 'n skoolkonsert by. Ja, reg geraai - as agtergrond word van my foto's op die skerm vertoon (van my blog af). Eerstens dis 'n kompliment, dalk is die foto's nog gebruik deur iemand wat my ken? Ek het geen kwessie daarmee nie, ek weet net dit raak deksels moeilik  om altyd te weet wat die regte ding is om te doen.

En net ingeval julle dink ek is onskuldig...ek het ook al as ek vir 'n skooltaak vir my kinders moes help doen op google se pictures geklik en sommer maklik 'n mooi prentjie op die taak se voorblad geplaas... net soveel mense het gekopieerde MP3's of flieks wat nie die oorspronklike is nie en waar kopiereg ook oortree word.

LESSE:

As fotograaf het ek geleer om my nie noodwendig te bekommer oor wat van my foto's sal word nie, want mens sal dit nooit kan beheer nie. Dis die eerste les. As jy jou heeltyd gaan bekommer gaan jy met niemand deel nie, en as fotograwe neem ons juis foto's om ons stories te deel.

Tweedens, dis baie min moeite om erkenning te gee - as jy iemand se foto gebruik, gee erkenning as dit enigsins moontlik is. (Selfs al is die foto in die argiewe). Tog, hier gaan dit van mediabron tot mediabron verskil.

As jy jou foto's wil beskerm, kry jou naam in die metadata van die foto by kopiereg. Dit sal nie verhoed dat dit misbruik word nie, maar dit kan jou help bewys dat dit jou foto is - of dalk die konsensieuse gebruiker bewus maak van wie die foto geneem het.

LEES DIE VOORWAARDES as jy vir kompetisies inskryf. Dis nie die organiseerders se fout as jy nie lees nie!!

Onthou gerus dat wanneer jy foto's op facebook plaas gee jy die reg aan enige iemand om dit te gebruik (dis nou as ek dit reg verstaan - ons sal Nico vir meer inligting vra). Nou dit laat natuurlik die vraag - as iemand my foto wat die koerant op hulle facebook bladsy plaas gebruik, dan is hulle mos binne hulle regte. Interessante reperkussies ne.

BELANGRIK:
Uit die gesprekke met die koerantmense by Rapport het ek die indruk gekry dat hulle presies weet hoe mens voel en dat van hulle self fotograwe is. Ek wil nie he ons moet op hierdie blog vingers wys nie. Veel eerder dink ek ons moet bietjie voorstelle deel oor wat mens kan doen om hierdie uiters sensitiewe terrein te hanteer.

Ek sien baie uit na 'n heerlike gesprek!

Groete

Igno

Views: 1180

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Colin Hill on September 25, 2015 at 8:15am

Ek het al dieselfde gehad waar mense my fotos vanaf FB gekopieer het vir eie gebruik.  Hennie gee my gereeld pak :) oor my naam te duidelik op my fotos is.  My vraag egter is is dit nie een manier om of fotos te beskerm nie.  Wat is die reels vir die plasing van 'n kopiereg teken lans jou naam op fotos of is die verkieslike om dit nie te doen nie.  Maar stem saam met Gerrie steel sal hulle steel.  ek het al oorweeg om my fotos teen 'n laer kwaliteit te plaas maar dan dink mense jy kannie fotos neem nie.  Soos in Engels gese  catch 22

Comment by Piet Nel on May 5, 2014 at 5:58am

is jammer maar stem saam Gerrie n mens sal nooit hulle kan stop nie. Dankie Igno 

Comment by Gerrie Lambrechts on May 4, 2014 at 8:00pm

Dankie vir hierdie interessante inligting Igno, steel sal hulle steel.  Soos jy tereg sê moet daar darem erkenning aan die fotograaf gegee word.

Comment by Dine Potgieter on May 4, 2014 at 7:53pm

Ai tog - ek verstaan kompetisies het sekere voorwaardes, maar kan hulle nie maar erkenning aan die fotograaf gee as hulle die foto later gebruik nie?

Ek hou van Rudi se disable voorstel - as mens dan wil werk aan die foto, en weer wil post - ek het altyd 'n kopie van die my fotoskoolverwerking in my eie hardeskyf - kan net sowel eerder teruggaan na die kopie, verander, post, en die FS-foto bly veilig!

Comment by Karen Kemp on May 4, 2014 at 11:13am
Baie dankie Igno vir die bogenoemde inligting! Voor my vriendin die vraag gevra het het ek nog nie eers aan die moontlikheid gedink nie! Sy't die voorbeeld genoem van predikante wat gereeld op die skerm fotos wys van mooi tonele ens. Om by hul preek te pas..en gese hul trek dit maar van die internet af. ek persoonlik sal ook baie gevlei voel as iemand my fotos wil gebruik( hahaha wat onwaarskynlik is) maar stem dat as dit kommersieel gebruik word moet mens erkenning/ betaling ontvang.
Comment by Pieter Steyn on May 4, 2014 at 10:10am

Heel interessante draad die - as iemand my flops wil steel en bewerk moet hy dit maar geniet - was ek egter 'n prof. sou ek so effens omge-ellie gewees het. Keer sal daar nie gekeer kan word nie kan dit nt so moeilik maak as moontlik. Soos om huis te beveilig teen inbrake - jy sal dit nie kan keer nie. As jy jou fotos plaas kan jy maar weet dit is daar vir enige een se gebruik. Slegs per toeval sal jy hoor of sien dit is gebruik.

Comment by Igno van Niekerk on May 4, 2014 at 8:35am
Hallo Rudi
Nogal n oulike tegniek is om die besonderhede van die verkopers van die produk se besonderhede te kry, en hulle te bel. Dan sommer net vriendelik te noem dat jy die fotograaf is, en te vra waar hulle die regte bekom het. Dalkleer hulle ook iets...
Comment by Rudi Kleynhans on May 3, 2014 at 10:32pm

Ek het nou onlangs verneem dat van my windpompfoto's hulle pad Namibie toe gevind het en op kunsmarkte verkoop word as plekmatjies, coasters, sleutelhangers ens. Synde ek nog nooit self probeer het om geld uit my foto's te maak nie, maar fotografie beoefen vir die lekker en ontspanningswaarde daarvan, was ek tot my verbasing bly dat iemand 'n ietsie uit my foto's kon maak.  :-) Maar, dit verander nie die feit dat die genoemde entrepeneurs nie die reg tot my foto's gehad het nie.  (Derhalwe verwyder ek ook gereeld van my nuwe plasings om te probeer verhoed dat dieselfde weer gebeur - ek is darem ook nou nie so vrygewig nie!) As ek 'n voorstel kan maak, moet 'n mens die webwerf administrateur versoek om die regs kliek funksie te "disable" sodat foto's nie van FS se webwerf "gesave" of "gecopy" kan word nie.  Die sleg daarvan is dan natuurlik dat Fotoskolers nie self foto's op hierdie manier kan aflaai en veranderinge kan aanbring om tegnieke aan ander fotoskolers te illustreer nie. Ek self het al baie uit hierdie gebruik geleer ... Sal graag wil hoor wat julle dink.

Comment by Henry Inocco on February 23, 2013 at 9:05pm

Beteken die copyreg langs ons naam iets of nie.

Comment by Tina le Grange on February 21, 2013 at 4:34pm

Baie dankie Charles vir die sinvolle verduideliking.

© 2019   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html