Sjoe!


As ek so na die boodskappe kyk wat ek kry oor matriekafskeidfoto's, dan lyk dit vir my ons is almal in vir die groot fotosessie.
Verskillende mense het wenke gevra oor matriekafskeidfoto's - so ek doen my bes...

Hier is my top wenke, en ek nooi almal van julle om nog wenke by te voeg:

1) Maak seker jou kamera is gelaai, het genoeg batterye, jy het 'n rugsteungeheuekaart (backup in goeie Afrikaans). As daar nou een ding is wat naas 'n troue moeilik herhaalbaar is, dan is dit 'n matriekafskeid - goeiste die kind sal 'n jaar moet oordoen - net omdat die fotograaf se toerusting nie reg was nie...

2) Onthou dat jou modelle dalk senuweeagtig gaan wees - vir hulle is dit 'n reuse gebeurtenis - so wees so vriendelik en gemaklik as moontlik van agter die kamera. Gesels lekker en laat hulle ontspan...

3) Laat jou modelle saamgesels oor idees tydens die fotosessie - met my broer se dogter se matriekafskeid was my broer die ene wat die volgende kostelike oomblik voorgestel het:

En hy's nogal die normale een in ons gesin :-) Of so het ek nog altyd gedink...

4) Indien moontlik, maak seker dat die plek waar jy die foto's neem komplimenterend is tot die mense wat jy afneem. Anea was ook heel gemaklik om voor 'n graffiti-muur vir Fiona van Shrek na te boots:


5) Onthou ook dat as jy foto's van die paartjie neem, dat hulle albei mekaar dalk ook nie goed ken nie. Wees dus sensitief vir hulle "gespannenheid" - as die fotograaf ook nog gespanne is, kan dit nogal lol - so al is jy effe gespanne - "hou jou pose."


6) Afhangend van die keuse van waar jy die foto's neem, kan die lig 'n groot rol speel. Onthou dat skaduwee/bewolkte weer met flash dikwels beter is as sonnige weer sonder flash. Pasop net vir bome - mens dink jy plaas die modelle in die skadu, dan val daar ongewensde sonkolle deur die blare - en die laaste wat mens wil he is son en skadukolle oral oor die gesigte. As dit moontlik is om met 'n eksterne flash te werk doen dit - gebruik ook as jy kan 'n weerkaatser (die flash s'n of 'n wit weerkaatser - al is dit ook wit karton - om die lig op die gesig te help verbeter.


7) Onder donker beligting gaan jy dalk moet dink om met 'n verhoogde ISO te werk, maar wees baie versigtig vir noise. Die volgende foto is in laat lig geneem - nie altyd so maklik nie, en 'n vriend het gehelp met 'n tweede flash. (Dit was vir 'n ander geleentheid, maar ek dink die beginsel bly dieselfde). Wat ek wel op wil wys met hierdie foto is die gevaar van die flash wat kan weerkaats (kyk in die venster langs haar gesig), sowel as te veel lig op grimering - op hierdie foto het ek dit bietjie oordoen om die punt te maak - maar as jy nie daarop let nie, kan jy lang nagte agter Photoshop spandeer - nie lekker nie...




8) Wees altyd gereed vir onverwagse oomblikke - my idee was hier dat almal (Boetie, pa, boyfriend, ma ens) met gevoude arms na Anea kyk - hulle was gereed vir die foto - toe sy haar balans verloor. (Die verskil tussen 'n ramp en 'n grap is baie klein wanneer jy matriekafskeidfoto's neem ) - Anea is gelukkig 'n Springbok in Oosterse gevegskuns - so sy het haar balans gehou.



9) As die agtergrond redelik deurmekaar is, probeer 'n zoem of telefotolens gebruik om die "diepte van veld" kleiner te maak, en op daardie manier te verhoed dat die agtergrond met die modelle kompeteer.


10) Soms kan sonlig van agter en flash van voor nogal help om die foto bietjie atmosfeer te gee. Onthou net dat die son van agter sonder 'n flash of reflektor van voor die model se gesig heeltemal in die skadu gaan laat...


11) Pak gerus 'n sambreel in. So ook water vir die modelle. Dis baie moeilik vir 'n model om te glimlag terwyl sy voel sy het 'n dag in die woestyn oorleef. Onthou ook dat hulle nie hakskoene gewoond is nie, en as hulle ver moet stap tussen foto's, is 'n paar crocs of tekkies ideaal. Hoewel die volgende foto by 'n troue geneem is, kan ek nie genoeg dankbaar wees vir die feit dat daar 'n sambreel was nie...


12) Moenie vergeet om die rok in vollengte van voor en agter af te neem nie. Dis al wat die arme ouers dikwels het om te wys vir 'n paar duisend verlore rande :-)











Views: 1099

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

© 2020   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html