Na aanleiding van 'n onlangse vraag oor die verstelling van lense het ek besluit om die Blog Post vollediger te skryf waar dit van waarde vir almal kan wees. Ek gebruik Canon kameras en uit die aard van die saak gaan my skerm fotos die van Canon wees.

Die beginsels geld egter dieselfde vir alle kamera vervaardigers hetsy Sony, Nikon ens. Verder is die artikel hoofsaaklik gerig op die fotograwe wie se kameras wel verstelbaar is. In die Canon reeks is dit die 50D, 5DMk2, 7D, 1D Mk3, 1D Mk4, 1DS Mk3. Nikon het die D3, D3x, D300, D700. Sony het die A900 en Pentax het die K20. Ek mag dalk van die nuwer kameras uitgelaat het

 

Verder sal ek poog om nie tegnies te raak nie, dit is egter 'n lang lees..... Koppie koffie reg.....

 

Inleiding

Wat is micro adjustment regtig ?

Alle kameras en lense word vervaardig met sekere toleransies (of speling) wanneer hulle uit 'n fabriek kom. Wanneer die kamera of lens binne die vervaardiger se toleransieperke val, word dit as normaal beskou. Die toleransies is egter verstelbaar deur die fabriek en onlangs eers het die verstelling van die kameras deur die verbruiker begin verskyn.

 

Waarom sal jy wil verstel

Vir argumentshalwe kom ons veronderstel die die toleransie moet binne + of -  3 fokus punte  wees. Indien ek 'n kamera het waarvan die fokus -2 is en 'n lens van +2 het, gaan die fokus perfek wees sonder enige verstelling en ek gaan gelukkig wees met die lens.

 

Indien ek nou 'n lens met 'n fokus van -2 op dieselfde kamera plaas, gaan ek buite die toleransie van -3 val met die -4 van die kamera en lens kombinasie. Die lens gaan nog steeds fokus, maar hy mag dalk effens sag wees (nie skerp fokus) wanneer ek die zoom gebruik.

 

Indien ek 'n zoemlens gebruik teen 'n fstop van f4 mag ek sien op 'n afstand van 10 meter dat die lens voor of agter fokus met 1 meter, maar met 'n diepte van veld van 3 meter gaan die fout verbloem wees, hoewel nie perfek nie.

 

Indien ek nou 'n lens gebruik met 'n fstop van f1,4 het ek probleme. Dir diepte van veld is geweldig vlak en die foto gaan sag wees (nie skerp gefokus)

 

Dit is hier waar die micro adjust van die kamera inkom. Die kamera laat jou toe om die "fout" te verminder deur die fokusvlak van die lens te skuif per lens. Die Canons kan 20 verskillende lense memoriseer en herken. Dus word die verstelling per lens een keer gedoen.

 

By die fokusvlak word bedoel die fokuslyn wat loodreg met die kamera se lensrigting loop. Die fokuspunt is die spesifieke punt op die fokusvlak waar die kamera fokus.

 

Daar is egter so klein kinkel in die kabel hier - wanneer 'n "teleconverter" op die lens geplaas word wat reeds gekalibreer was, moet dit weer gedoen word asof dit 'n nuwe lens is. Teleconverters is berug dat hulle fokusvlakke kan skuif.

 

Ook verskil 'n zoemlens vanaf sy minimum na maksimum verstelling - een verstelling gaan dus nie vir alles werk nie. Vandaar die stelling dat die lens verstel word waar jy hom die meeste gebruik. Meer hiervan bietjie later.

 

Hier is fotos van 'n Canon 5D Mk2 se kalibrasieskerms.

 

 

 

Hier is die volgende skerm waar die verstelling gedoen word. Let op die naam van die lens op die skerm. Die kamera herken die lens outomaties.

 

 

 

 

Hoe kan jy die fout van die kamera en lens kombinasie meet

Plaas die kamera en lens op 'n stewige driepoot vir alles fotos en ook perfek op dieselfde hoogte as jou toetsvoorwerp

Die fotos moet maar in goeie lig geneem word wat nie te veel verander nie. Verder moet die lens op outomatiese fokus wees en die stabiliser van die lens afgeskakel om enige eksterne invloede te voorkom.

NB - Gebruik 'n remote kabel release en maak die oogstuk van die kamera toe om enige lig te keer wat van daar mag inkom. Die eksterne lig mag die kamera se fokus beinvloed - ek het dit self so ervaar ! Die meeste kameras het op sy nekbelt so rubber strokie wat jy bo-op die oogstuk plaas of die duurder kameras soos die 1D reeks het 'n metaal  armpie wat jy skuif

 

Daar is verskillende metodes en ek gaan 'n paar noem.

1 - Koerantpaier metode

Neem iets met baie kontras soos bv 'n koerant blaai met baie teks. Verkieslik moet dit hoë kwaliteit drukwerk wees. Sommige koerante se drukwerk is swak en die kante van die teks is baie vaag. 'n Glanstydskrif se blaaie gaan dalk hier beter werk. Plak hom teen 'n muur. Kies 'n kol waar jy gaan fokus en merk hom met 'n sharpie pen of highligter.

 

Staan 'n ent terug - hoe ver hang af van jou fokale lengte, maar jy soek uiteraard 'n vlak diepte van veld - dus nie te ver nie. Met my 70-300mm lens teen 300mm, sou ek maar 1,2m teruggestaan het. Die gedagte is dat die lens net verby sy minimum fokus afstand geplaas word waar die diepte van veld op sy vlakste is.


Verstel jou micro adjust op argumentshalwe +15 en neem drie fotos met die remote release. Die drie fotos is bloot om enige klein variasies op dieselfde verstelling uit te wys. Jy kan mirror lockup gebruik, maar dis nie krities nie. Verstel na +10 en neem weer 3 fotos. Doen dieselfde op +5, 0, -5, -10 en -15. Jy sit nou met 21 fotos.

 

As jy deur jou fotos kyk gaan jy teen 100% vergroting definitief sien waar die fotos skerp is. Doen dan ook fyner verstellings indien nodig bv tussen +5 en 0 om te onderskei.

 

2 -Datacolor Spyderlenscal

 

Dit is 'n lens-kalibreer apparaat wat werk met 'n kontras patroon waarop jy fokus asook 'n liniaal wat 45grade agtertoe lê met graderingsmerke op. Die gedagte is maar dieselfde as die koerantpapier manier. Daar word gefokus reg op die middel van die kleiner kontras patroon wat op sy beurt inlyn is met die 0-merkie op die liniaal. Met 'n vlak diepte van veld kan daar duidelik gesien word of die lens en kamera kombinasie korrek fokus. Daar is niks met die apparate fout nie en hulle werk baie goed, die enigste probleem is die prys - R600 - R900 !

 

 

Op die foto het die kamera/lens kombinasie 'n "frontfokus" fout wat herstel word deur die lens se fokusvlak na agter te verstel

 

 

3 - Die Moire patroon

Daar is 'n ander metode waar daar vanaf 'n rekenaarskerm (verkieslik 'n draagbare rekenaar) gewerk word. 'n Moire patroon word gebruik. Die patroon word volgroote op 'n LCD skerm gewys en dan staan die fotograaf 50 keer die fokale lengte van die lens terug. Vir 'n 50mm lens sal die afstand 2,5meter wees.

 

Nota - 'n gedrukte kopie werk nie ! Die patroon werk op "interference" patrone tussen die rekenaar en kamera skerms

 

Hier is 'n gedeelte van so patroon

 

 

Die patroon word dan op die rekenaar skerm gewys en dan gefokus deur die kamera sonder om 'n foto te neem. Daarna word na "Live view" van die kamera oorgeskakel en die fokus word met die hand gestel om te bepaal of die fokus skerper kon wees. Hier is veral die inzoom funksie van die "Live view" handig.

 

Die Moire patroon veroorsaak dan meer of minder steurings op die skerm afhangende van die fokus. Sien die volgende fotos :

 

Persoonlik het ek nie veel sukses met die metode gehad nie en my kalibrasie was meer uit as in gewees.

 

4 - Leêr of file grootte

Ek het die metode vinnig probeer maar kon glad nie hier regkom nie. Daar word weer soos in die koerantpapier metode op iets met baie kontras en teks gefokus en die gewone fotos word geneem. In plaas van na die fotos self te kyk, word daar na die grootte van die fotos op rekenaar gekyk.

 

Die gedagte met die metode is dat indien die foto op sy skerpste is, daar die maksimum hoeveelheid inligting in die foto sal wees, vandaar die grootste file op die rekenaar.

 

Die probleem hier is egter dat die lig op die foto moet absoluut konstant bly. Buisligte is glad nie konstant nie, Die son wat kort -kort agter 'n wolkie inskuif ook nie. Die hoeveelheid lig in 'n foto gaan die grootte geweldig beinvloed.

Ook moet die kamera absoluut stewig staan en glad nie skuif nie. Enige klein variasie in enigiets gaan onakkurate resultate gee.

 

Dit is seker die moeite werd om ook hier eksperimenteer vir die wat wil

 

My kalibrasie proses met 'n SpyderLenscal

Hieronder volg my lens kalibrasie proses met 'n Canon 70-300mm L lens op 'n Canon 1D Mk4 kamera. Ek het die lens op sy maksimum fokale lengte van 300mm gekalibreer. Op die Canon bring die - (minus) verstellings die fokusvlak vorentoe (na die kamera) en die + (plus) neem die fokusvlak agtertoe (weg van die kamera)

 

Hier is die Spyder Lenscal op 'n driepoot gemonteer ongeveer 1,2 meter voor my kamera ook op 'n stewige driepoot.

 

 

 

 

Ek het die kamera se kalibrasie gestel na -10 en die foto geneem :

Let op waar hoe skuif die fokusvlak op die liniaal met elke foto. Verder raak die skerpheid van die kontras patroon beter soos die fokusvlak agtertoe skuif.

 

 

Verstelling na -5 :

 

 

 

Verstelling na 0 :

Die skerp vlak lê hier so halfpad tussen die 0 en die een. Die kamera se fokusvlak is dus nog te vorentoe gestel


 

Verstelling na +5 :


 

 

Verstelling na +10 : Let op hoe skerp raak die 0 merkie op die liniaal. Die effek kan makliker gesien word op die fyner liniaal verstellings. Hy is nog nie heeltemal op die 0 merkie nie maar amper.


 

 

Kom ons doen 'n laaste een op +15 :

 

Vir my lyk hy nou perfek !

 

 

Die volgende foto het ek die kamera presies op dieselfde plek gelos en 'n foto geneem op 70mm. Onthou die kalibrasie was gedoen op 300mm en hy was perfek !

Wat het nou gebeur ! Kyk hoe skerp lyk daai 6 skielik ! Onthou wat ek genoem het dat die verstelling verander vanaf die wye na die telefoto deel van 'n lens. Daar sien julle dit nou self.

 

Opmerkings

Met 'n zoemlens is dit waarskynlik die veiligste om dalk geen kalibrasie te doen nie. Die fout sal dan uit kanselleer tot 'n minimum deur die lens se fokale lengtes. Indien daar 'n groot fout opgemerk word, kan daar gerus gekyk word waar lê die fout deur die kalibrasie proses. Kwaliteit lense se fokusfoute gaan ook minder wees as goedkoper lense. Daar is baie waarde in die opmerking dat mens die duurste lens moet koop wat jy kan bekostig, en dan sit jy nog so bietjie by ! "Brand name" lense gaan ook minder foute wys.

 

Lense wat die grootste waarde by die proses gaan vind is "prime" lense (maw vastefokus lense) omrede daar geen verstellings in die zoem is nie.

 

Ook derdeparty lense soos Sigma gaan eerder hier baat vind met die kalibrasie. Miskien kan dan gekyk word om erens in die middel van die zoem reeks te stel.

 

Die akkuraatste metode dink ek is die Spyder Lenscalmetode, maar daar is 'n koste aan verbonde. Dit is egter redelik maklik om 'n soortgelyke apparaat te maak van items wat verkry kan word by 'n hardeware winkel en 'n paar gedrukte velle papier vir die wat handig is.

 

Die ander metode genaamd die koerantpapier metode is 'n goedkoop indikasie van 'n fout indien daar iets vermoed word.

 

Dan net 'n laaste opmerking - moet liefs nie die kalibrasie-proses aanpak indien jy nie heeltemal gemaklik voel hiermee nie. Gelukkig het die kameras darem 'n kanselleer of "disable" opsie.

 

Lekker kalibreer aan julle lense !

 

Views: 323

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Charles Whitehead on March 4, 2013 at 3:44pm

Hi Rean

Waarvoor wil jy die wyehoeklens gebruik ? Hy is hoofsaaklik vir landskappe en argitektuur tipe fotografie

Canon het goeie wyehoeklense soos bv die 17-40 L f4. Hy is nie te duur nie en hy is goeie kwaliteit. Jy gaan nou wel distortion kry aan die wyehoek kant, maar dis iets wat maklik in bv Photoshop reggestel kan word

Daar is 'n hoër kwaliteit lens nl die 16-38 L F2.8 ook beskikbaar, maar ek dink hy is te duur teen R13 000

Beide bogenoemde lense sal pas op crop en fullframe sensors. Jy kan ook kyk na die EF-S 10-22 f3.5-f4.5 indien jy slegs by crop sensor kameras gaan bly soos die 7D wat jy noem. Soms is dit dalk beter om van die begin af te kyk na lense wat op alle sensors pas. Oor 'n paar jaar gradeer jy dalk op na full frame soos die 5D en dan pas jou EF-S lense glad nie.

Comment by Rean3 Keuler-Nortje on March 4, 2013 at 3:12pm

Hi Charles, Kan jy dalk vir my help. Ek wil kyk na 'n wide angle lens. Ek beplan om op te gradeer na die 7D omdat ek baie sport doen. Dankie vir jou hulp, waardeer

Comment by hennie viljoen on August 31, 2012 at 5:28am

baie dankie charles... dit was puik... hou aan om so goed en deeglik vir ons te ondersteun.. groetnis

Comment by Charles Whitehead on May 6, 2012 at 8:29pm
Frans - dankie vir die kommentaar. Ek is bly as jy waarde daaruit kry. Net soos die blog is daar baie ander ook met waardevolle inligting. Fotoskolers moet regtig die moeite doen en deur die ou blogs kyk
Comment by Frans van Heerden on May 6, 2012 at 5:17pm

Charles: n Uitstekende aanbieding. Baie dankie. Dis deeglik, gebalanserd en in leke taal geskryf. Die moeiet wat gedoen om die fotos te plaas soos wat die les vorder is puik. Ek dink n mens moet jou waarskuwings ter harte neem - dit is n proses wat liefs deur kundiges onderneem moet word. Ek stem volmondig saam  - koop die handelsmerk en hou "soort(kamera) by soort (lens)"

Comment by Igno van Niekerk on March 27, 2011 at 6:03pm

Hallo Charles

Baie dankie vir 'n baie interessante les! Groete, Igno

© 2019   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html