Op 'n pragtige, loom middag stap ek met 'n lied in my hart en 'n huppel in my stap op die strand by Supertubes, die Oos-Kaap se branderplank-mekka te Jeffreysbaai.  'n Paar seemeeue sirkel lui bo my kop en maak krassend geselsies met mekaar oor waar die vis loop.  Die nat sand gryp tergend na my kaal tone en nooi my om enkeldiepte in die spierwit branderskuim te waad.  Ek verstom my aan die branderplankryers wat soos robbe in die water baljaar en die aanstormende golwe vreesloos ry. 

 

Die son is aangenaam warm op my skouers en ek adem die soutvog van die seelug diep in my longe in.  Mens kan die see se luim in die kleur van die water lees, soos die emosie in 'n vroukind se oë.  Ek grawe my piepklein mik-en-druk kameratjie (Sony DSC-WX7)  uit my denimsak uit en verloor myself in die kuns van die sluiterknoppie op die regte oomblik druk.  Dis net ek en my kamera en die strand en die see...

 

By die huis gekom, stroop ek sommer my klam denim in die waskamer van my lyf af en gooi dit in die wasmasjien.  Seesand en -sproei klou mos verbete vas aan mens se klere, asof dit wil hê jy moet langer bly en nie nou al gaan nie... 

 

Ek kan nie wag om my nuwe fototjie's te sien nie en kan nie gou genoeg voor die rekenaar stelling inneem om dit af te laai nie.  Toe die verlammende skok - waar's my kamera?

 

In my denimsak... in die wasmasjien!  En die skuimbolle staan al doer soos die masjien lustig tjommel...  Ek duik in die skuim in, vis my denim uit.  Niks in die sakke nie!  Waar's my kamera?  Ek grawe met oop vingers onder in die water... en vat die bekende vorm raak.  Die Sony is papnat en selfs die battery het uitgeval!  Ek huil soos 'n kind oor sy hond wat dood is...  Manlief troos en luister simpatiek na my wat oor en oor prewel: "Ek was sooo lief vir my ou kameratjie, ek was sooo lief vir my ou kameratjie..."

 

Ek het die kamera in rys laat lê vir 'n week... die kamera kom aan en selfs die 'display menu' wys... maar, die lens wil nie oop nie, seker geroes.  Gelukkig tog kon ek al my foto's red, want die geheuekaart het niks oorgekom nie!  Ergste is, die kamera was nog onder waarborg... nie dat dit my nou enigsins baat nie....

 

Les:  Indien jy 'n piepklein kameratjie het wat jy letterlik orals kan saamneem, want dit pas in jou sak - beware en bly weg van 'n wasmasjien af!

 

 

 

Views: 161

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Louise Viljoen on April 29, 2014 at 2:35pm

My Sony het uit die dood herrys!  Sowaar...  Ek dog, wag, ek gaan hom aansit en kyk, miskien... en voila!  Hy werk en hy neem foto's... Lank lewe Sony!

Comment by Louise Viljoen on July 27, 2013 at 4:20pm

Baie dankie, Leon, vir jou opbouende kommentaar en voorstel.  Ek vind dit baie inspirerend en het groot waardering daarvoor.

Comment by Leon on July 27, 2013 at 1:57pm

Ek weet nou nie oor die fotos neem nie maar na daai "boeiende "verhaal dink ek wragtie jy moet gaan dig of selfs skrywer word met en dit met die fotografie inwerk.Nogans pragtige storie.

Comment by Louise Viljoen on July 11, 2013 at 5:25pm

Dankie, Donald, ek gaan jou raad volg... dalk post ek nog goeie nuus hier!

Comment by Donald Daniel Jacobs on July 11, 2013 at 4:39pm

pragtige gedigte taal. miskien net die sony se lens effens roer met jou vinger of spoel dit skoon met skoon water.sonder die battery, en laat droog word. miskien net n bietjie seep wat die lens vashou. Sterkte

Comment by Gerrie Lambrechts on July 3, 2013 at 4:36pm

So raak gestel, jy kan vryskut werk doen.  Ek het so gevoel toe my selfoon is die water beland het.

Comment by Josef Steyn on July 1, 2013 at 5:36pm

Louise, jy moet ogies maak vir jou man en nie die kamera nie. Ek glo sy hart sal sommer sag word en die kamera sal in jou skoot val!!! Sterkte met jou poging!

Comment by Louise Viljoen on July 1, 2013 at 3:03pm

Baie dankie vir jul kommentaar en insette!  Dis lekker om te weet jul het tyd ingeruim om my blog post te lees.  Dit was voorwaar 'n swaar slag om my kamera so te verloor! Dit was 'n vernuftige dingetjie en so deel van my alledaagse bestaan, ai...  Ek maak egter reeds ogies vir my man se Nikon wat hy so afskeep, haha. 

Comment by Pieter Steyn on July 1, 2013 at 6:23am

Baie goeie storie en mooi geskryf

Comment by Elizma Fourie on June 30, 2013 at 6:28pm

Pragtige storie, ek het ook so 'n Sony wat ek oral met my saamdra. Ek vergeet net altyd om sy batterye te vervang.

© 2019   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html