Beste Vriende

Ek hoor graag wat my mede-fotograwe dink van hierdie filosofiese siening oor ons liefde vir fotos neem wat Saterdag in Die Burger verskyn het.

"Drie gedagtes oor die selfie
dieburger.com
1. ’n Kompensasie vir verlore identiteit?

Op ’n ander vlak waarsku Sontag oor die leë wêreldbeskouing wat ’n fotomal-samelewing tot gevolg het.

“In a world ruled by photographic images, all borders (‘framing’) seem arbitrary. Anything can be separated, can be made discontinuous, from anything else: all that is necessary is to frame the subject differently. (Conversely, anything can be made adjacent to anything else.)  . . . The camera makes reality atomic, manageable and opaque.”

Sy sê voorts hierdie aanvaarding van die wêreld as klein eenhede wat apart beleef word, skep ’n soort bestaan wat verbinding en samehang onmoontlik maak.


As mens haar gedagte verder neem, is die suggestie dat die wêreld deesdae uit nog méér aparte, uitstalbare, verbruikbare ervarings bestaan.

Geen geheel, geen groter bewustheid nie. Dit is dus ironies dat die internet – wat ontstaan het as dié beslissende verbindingsnetwerk, die skakeling van mense en mense, mense en idees, mense en geskiedenis – verbinding eintlik op ’n kognitiewe vlak uiters moeilik maak.

As die wêreld ervaar word as ’n versameling enkele uitstalbare ervarings, is die groter implikasies daarvan kommerwekkend: Want net ’n groter bewustheid van die ingewikkelde verhoudings tussen ervarings kan tot ware begrip en kennis lei.

“In contrast to the amorous relation, which is based on how something looks, understanding is based on how it functions. And functioning takes place in time, and must be explained in time. Only that which narrates can make us understand,” skryf Sontag oor die inperking van ’n wêreld vol fotograwe.

’n Instagram-ingesteldheid is die soeke na oomblikke en posts; nie narratief nie. Daar is nie tyd vir verbande en geskiedenis nie.

Voorts word teks toenemend in sosiale media gedegradeer tot blote onderskrifte; tot sekondêre, eenvoudige kommunikasie.

’n Herlees van Sontag met vandag se e-foto’s in gedagte kom dalk konserwatief en paranoïes voor. En ja, dit is maklik om na ’n reiner, eenvoudige tyd voor die tegno­revolusie te verlang.

Maar ’n mens sukkel om te aanvaar dat ons nie iets belangriks langs die pad verloor het nie.

Jy voel veral só ná ’n vakansie waarin almal reageer het op iets beeldskoons of ongewoons deur hul iPhone uit te pluk.

2. Dalk ’n reaksie op moderne oorstimulasie

Die afgelope vakansie het hordes e-foto’s – strandfoto’s, reislandskappe, Krismis-selfies en familiegroepportrette –op sosiale media geblom.

Te danke aan slimfone en sosialemedia-gereedskap soos Instagram en Twitter is hierdie soort fotodokumentasie nie meer iets wat in ongewone of spesiale tye beoefen word nie. Dit het ’n lewenswyse geword.

Lees jy “In Plato’s Cave”, die eerste gedeelte van Sontag se On Photography (1977), raak ’n mens al hoe ongemakliker met die nuwe afneem-en-oplaai-fotokultuur.

Sontag het oorspronklik geskryf oor die kulturele gevolge van die destydse mik-en-druk-revolusie, maar haar insigte blyk in die huidige e-kultuur net meer en meer relevant te wees.

Sontag skryf oor die foto as familieritus. Die familie-album-beheptheid van die 1970’s het ontstaan in ’n tyd waarin die tradisionele gesinseenheid onder maatskaplike druk verkeer het.

“Through photographs, each family constructs a portrait chronicle of itself,” skryf sy.

Die suggestie is dat fotografie onbewustelik kompenseer vir die aftakeling van die hegte gesin. Dit kom dikwels neer op ’n soort oorkompensasie – die skep van ’n byna fiktiewe gesinsbeeld waarin alles beeldskoon of interessant is.

Maar ’n mens kan haar argument verder neem. Met die ideale en absolute gesinseenheid deesdae aan flarde word fotografie bes moontlik gebruik as desperate kompensasie vir die aftakeling van die laaste oorblywende sosiale sekerheid: die eie identiteit.

Smag ons onbewustelik na die ouer idee van ’n geïntegreerde, essensiële identiteit, iets anders as die gefragmenteerde en gedisoriënteerde moderne ego?

Dit verduidelik dalk veral die ongewone gewildheid van die selfie.

3. Die gevolg: ’n Wêreld sonder ware begrip

Die moderne lewenswyse is een van fragmentasie: stres, spoed, angs, kapitalistiese mededinging, tegnologiese onmiddellikheid, aandagafleiding, onsekerheid.

Hier word ’n ander gedagte van Sontag dalk bruikbaar: Sy skryf oor die neem van foto’s as ’n “defence against anxiety” met verwysing na die toeristefoto. Toeriste reageer op die onsekerheid van ’n ingewikkelde ervaring met die gerusstellende aksie van fotoneem: “Unsure of other responses, they take a picture.”

Verander sosiale media dan nie almal in blote toeriste wat hul eie leefwêrelde bereis nie? Besoek ons ons lewe nou, maar leef dit nie? Is ons omgang met ons ervaringe deesdae vlietend en oppervlakkig? Reageer ons op die vreemdheid, die veelheid van indrukke, die moderne oorstimulasie met die kalmerende ritueel van afneem-en-oplaai?

Sontag skryf kulture met ’n sterk werketiek – volgens haar veral die Duitse en die Japanse kultuur – veral geneig is om vakansiefoto’s te neem.

“Using a camera appeases the anxiety which the work-driven feel about not working when they are on vaca­tion . . . They have something to do that is like a friendly imitation of work.”

Is ons deesdae – soos Sontag se toeriste by die werk en op vakansie, maar ook in ons alledaagse lewe – kapitaalrobotte wat aan ons rekenaars en selfone gekoppel bly in die modus van dokumentasie, klassifikasie en bemarking?

Dit wil so voorkom wanneer jy in sosiale media die modesiek profielfoto’s raaksien, asook die daaglikse rapportering van banale bedrywighede as Gebeurtenisse.

Voorts is daar ’n verband tussen die foto as dokument en die burokratiese stelsels wat ons wêreld orden, sê Sontag. Dit lê in die aanvaarding van die foto as inligting; nie as ’n visuele misterie of wegspringplek vir interpretasie nie.

Nou wonder ek: Is sosialemedia-gebruikers nie besig met ’n soort burokrasie van die self nie? Besig met herhaalde en onnodige aksies, alles om die stelsel se byna totalitêre alomteenwoordigheid te behou en uit te brei?

As ’n mens dink aan hoe groot maatskappye sosialemedia-profiele gebruik vir marknavorsingsdoeleindes klink die woord “totalitêr” tog nie vergesog nie."

Views: 242

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Dine Potgieter on January 25, 2014 at 5:14pm

Ek het 'n rukkie terug Susan Sonntag se boek gelees - nogal moeilik om in die hande te kry! Haar beskouing is interessant, en daar kan  lang debatte rondom baie bottels wyn gevoer word. Al is die boek pre-digitaal, is daar tog baie stof tot nadenke. Ek is lief vir fotografie en foto's, maar ek stem saam dat ervarings soms "dood" gefotografeer kan word. Ek moet myself veral op reis/vakansie  herinner om die kamera met tye weg te sit, en net te kyk, te luister, te ruik en te konsentreer op 'n geheel-ervaring. 'n Plek is meer as net fotos! Interessant genoeg, is die fotos wat ek dan wel neem, beter as die resultaat van 'n permanente wegkruip agter die "viewfinder". Dis interessant om mense te sien instap by 'n plek, gou te kiek, en onmiddellik belangstelling te verloor.  'n Goeie reis of ander lewens -ervaring is ook nie altyd ekwivalent aan goeie (of enige) fotos nie. 

Sonntag maak ook 'n punt daarvan dat die geweldige oorvloed van beelde (wat intussen eksponsieel toegeneem het), die kyker laat afstomp. Sy het spesifiek na joernalistieke fotos met skokwaarde verwys, maar ek wonder of dit nie vir estetiese waardering ook geld nie. Hoe meer beelde jy mee gekonfronteer word, hoe minder krities gaan jy ook daarna kyk.

Sterk sosiale kommentaar...

 

Comment by Doretha Kock on January 23, 2014 at 12:05pm

Ben dis 'n interessante beskouing, deur een persoon en gee mens wel stof tot nadenke.  'n Mens kan seker alles vereenvoudig deur te sê, dat toeganklikheid, beskikbaarheid en "mode" giere, die motivering is, vir die neem en laai van foto's deur al wat leef en beef.

Daar is tog seker fotograwe (Jan Alleman) en Fotograwe, elkeen met 'n ander doel.  'n Mens kan nie veralgemeen nie.

Verder dink ek sosialemedia-gebruikers het 'n platvorm gekry, waar hulle, hul "stem" kan laat hoor en hulle maak gebruik daarvan.  Moontlik is dit nie 'n soeke na identiteit nie, maar wel na erkenning.

Comment by Ben van Heerden on January 21, 2014 at 6:04pm
Baie dankie vir jou opinie Pierre. Ek wil darem net noem dat dit nie ek was wat die stuk geskryf het nie en dit ook nie my opinie verteenwoordig nie. Ek het self baie defnitiewe idees hieroor, maar ek wil graag eers hoor hoe voel my mede-Fotoskolers oor die saak voor ek my opinie gee. Dankie dat jy die gesprek geopen het!
Comment by Pierre Hardinge on January 21, 2014 at 5:35pm

Hi daar Ben, ek is nou nie sulke groot woorde magtig nie en meksien is ek effe naief, maar my filosofie omtret fotografie is een van Liefde, samehorigheid, dissepliene, PRET en die uitleef van jou eie kreatiwiteit en om jou kunstigheid uit te leef....

Ek beskou fotografie ook as n gesins-stimulant en kan getuig van die goeie vrugte wat dit voortbring.

Laastens maar nie die minste nie en meskien moes ek dit heel eerste genoem glo ek ook dat fotografie n "Tool" is wat God ons gegee het om na Skeppings werk te kyk en te bestudeer.....

maar net my nederige selfgevormde opinie

Fotogroete

Pierre

© 2019   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html