Hallo Fotoskolers,

Ek hoop dat die meeste van julle al die ergste winter deurgesien het, en dat die eerste tekens van lente begin wys. Waar ek ookal met fotoskolers gesels, is die behoefte aan reen groot. So, kom ons hoop vir 'n lente van lekker reen!

Leer fotografie met 'n kaartspeletjie en hope pret:

Vir die afgelope jaar al loop ek met 'n gedagte van 'n speletjie (kaartspeletjie) wat 'n mens die beginsels van fotografie leer! Na 'n paar dae se verlof in Julie-vakansie is ek baie opgewonde om julle mee te deel dat die speletjie nou in ontwerpfase is. (By die ontwerper en oppad drukkers toe)! Ons verwag die eerste druk in die begin van Oktober; maar ek deel graag hier die denkwyse agter die eerste verspreiding (Enige voorstelle is welkom!).

Met die eerste druk gaan ons probeer spaar op bykomstighede soos 'n uurglas (timer), ons gaan ook die verpakking probeer goedkoop hou (dus, dit gaan nie so mooi wees soos die finale produk nie), maar ons wil dit teen die billikste moontlike prys vir "beta-gebruikers" beskikbaar stel. Ons sal graag van hierdie gebruikers wil terugvoer kry of die speletjie vir hulle werk, en of ons enige veranderinge moet aanbring voor die finale weergawe gedruk word. 

Maar hoe werk die speletjie...?

Ek brand om alles te vertel - maar weens kopiereg en ander vereistes kan ek net die volgende deel:

3 Of meer spelers kan speel.

Daar is verskillende rondtes waarin jy 'n foto teen ander deelnemers se foto's moet verdedig. Die "beginsels" van verdediging het my gekos om deur al die terugvoer op foto's op fotoskool te werk, en die belangrikste elemente te kies. Jy kry dus "Fotoskool in 'n boks :-). 'n Klompie foto's en 'n klompie kaarte waarvolgens jy jou fotokaarte kan verdedig... en dan begin die pret.

Om te kan speel het jy nie baie fotografie kennis nodig nie, maar met dit wat jy in die speletjie leer gaan jy sommer vinnig vinnig verstaan wat die vereistes vir 'n goeie foto is.

Nou waarom vertel ek nou al...?

Ons wil graag 100 beta-toetsers vir die speletjie kry. In ruil vir die feit dat jy nie die mooiste verpakking, 'n uurglas en "tokens" kry nie, kry jy die speletjie teen 'n verlaagde koste, jy kry die geleentheid om insette te lewer, en ons kry uit die eerste betalings voldoende fondse om die aanvanklike kostes te dek.

En natuurlik sal fotoskool se vernaamste reel geld oor enige iets wat ons te koop aanbied. Indien die produk jou teleurstel sal ons jou gelde terugbetaal.

Nou ja, hoe gemaak as jy 'n Beta-Toetser wil wees?

Vir Beta Toetsers gaan ons die speletjie teen R120.00 beskikbaar stel. Dit sluit basies 'n pakkie-fotokaarte en fotografie-beginselkaarte in. Dit behoort op die laaste teen einde September beskikbaar te wees.

As jy graag aan die beta-toets pret wil deelneem, kan jy tot 15 Augustus 'n inbetaling van R120.00 maak met jou naam en "beta" in bankverwysing. Vir persone buite Bloemfontein (maar steeds in Suid-Afrika), sal daar 'n addisionele R20.00 posgeld gehef word. (Dus R140.00). Jy kan dan net 'n bewys van betaling stuur aan my by ignophoto@gmail.com. Ons rekeningbesonderhede is onderaan.

As daar enige vrae of voorstelle is, laat weet my gerus. Tans sien ek ongelooflik uit na die koms van hierdie speletjie-baba met al sy/haar fotoskool gene.

Groete

Igno

Ps Onthou gerus dat die beta-weergawe nie so duursaam gaan lyk soos die finale weergawe nie; maar die pret sal nie minder wees nie!

Ons rekeningbesonderhede is die volgende:

Rekeningnaam: Fotoskool

Bank: Standard Bank

Tipe: Tjek

Takkode: 055534

Rekeningnommer: 422 193 658

Views: 44

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Igno van Niekerk on August 15, 2017 at 9:35pm

Jy kan gerus nog inval, Elna. Ek hou julle op hoogte!

Comment by Elna Geringer on August 15, 2017 at 5:42am

Igno, kan ons nog betaal of het jy reeds 100 skolers gekry?

© 2017   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html