Nuutste Korrespondensie - Die toekoms van Fotoskool

Hallo Fotoskolers,

Voordat ek 'n baie belangrike saak aanraak, nl die pad vorentoe vir fotoskool, wil ek net noem dat daar 'n addisionele twee weke is waartydens die Light On Leadership boek (of e-boek) vir die voorafbestellingspryse beskikbaar is. Klik gerus hier as jy belangstel. Vanaf 31 Oktober sal dit teen gewone markprys te koop wees. So, as jy dalk nog 'n kersgeskenk in gedagte het. Dan is daar natuurlik ook Josef en Hennie se fotografie handleiding, wat net so besonders is...Klik gerus hier as jy meer wil weet.

Toekoms van Fotoskool:

Ons het verskeie lede wat die versoek gerig het dat ons die standaard van foto's op fotoskool moet verhoog. Die huidige dilemma is dat daar tans briljante sowel as swakker foto's op die webwerf is. Hennie doen sy bes om elke foto op meriete te beoordeel, maar nou het ons beginner-fotograwe wie se foto's met ervare fotograwe vergelyk word. Die probleem is dubbelle standaarde. Sommige mense benodig motivering, ander kritiek. Soms lewer lede kommentaar waar gemiddelde of selfs swak foto's aangeprys word. Dit kan natuurlik dien as motivering vir die fotograaf; maar dit beteken ook dat ons standaarde betwyfel word.

Verskeie lede het al voorstelle gemaak, en ek nooi julle graag vir insette, (hierdie korrespondensie sal as blog geplaas word, en opmerkings kan dan onderaan gemaak word; maar loer ook gerus na ander gesprekke bv Gabriel Parsons se "Bietjie Kritiek" op die Forum (regs op die Fotoskool bladsy).

Wat volg is net voorstelle/idees wat reeds genoem is, maar ons is oop vir enige moontlikhede:Ons wil nie graag twee webwerwe gebruik nie, want dan kry beginners nie kans om van Gevorderde Fotograwe te leer nie. Dit is egter 'n oorweging. Voorts kan ons kyk na 'n betaalmodel; waar mense wat meer ernstige/professionele kritiek op hulle foto's verlang dalk 'n maandfooi/jaarfooi kan betaal en in 'n "betaalde lid" kategorie geplaas word. Ons sal altyd ons bes doen om Fotoskool se gewone funksies kosteloos te hou. 'n Ander idee is om Fotoskool soos 'n kameraklub te benader waar lede wat ledegeld betaal in bepaalde "kategoriee/sterklasse" geplaas word, en appels dus met appels vergelyk kan word. 'n Klein icon sal dan die persoon se sterklas aandui (Frans van Heerden het al 'n paar jaar gelede hierdie voorstel gemaak).

Ons wil graag die gees van fotoskool behou, maar ons wil verseker dat almal baatvind; so kom gooi gerus jou stuiwer in die armbeurs deur op hierdie blog kommentaar te lewer (op die Fotoskool webwerf).

Groete

Igno

Views: 579

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Tina le Grange on October 14, 2016 at 11:45am

Doretha jy verwoord presies wat ek ook wou sê

Soos op Gabriël se onlangs Blog, sê ek weer, ek is hier om te leer en is oop vir alle kommentaar.

Fotografie is vir my 'n wonderlike stokperdjie. Weer eens baie dankie aan Igno, Hennie, Josef en Lientjie asook aan ons eie skoolvriende by wie ek almal kan leer.

Groete Tina

Comment by Doretha Kock on October 14, 2016 at 11:00am

Hallo Igno

Dink hierdie besprekings en voorstelle kan interessant raak. Persoonlik is ek nie 'n kompetisie-mens, wat my foto's met ander vergelyk nie en probeer slegs myself verbeter. Ek is dus baie dankbaar en tevrede.  Dit was nog altyd vir my wonderlik, dat Fotoskool, ervare en minder ervare lede akkomodeer en ek leer by almal.

Groete 

Doretha

Comment by Jan Hendrik Visser on October 14, 2016 at 9:42am

Goeien dag Igno

Ek probeer dink aan n maklike manier om dalk die dilema op te los van die beter of minder beter fotoskolers.

Kan n mens nie n gradeering sisteem implimenteer nie. alhoewel betaling n goeie roep is dink ek dit sal ook mense afskrik om die fotoskool groep te gebruik. Ek is net nie seker hoe mens die maatstaf sal stel nie. In plaas van 2 of 3 groepe te wat skeiding sal veroorsaak. Wat van jy as gebruiker sit n ster op jou profiel of jou "profile Pic". Jy wat dan die gebruiker is kan kies hoeveel krietiek jy oor die fot wil he. Of n ander opsie, soos jy elke een van jou  fotos laai kies jy hoeveel sterre jy onder aan jou foto wil sit. MAW as jy byvoorbeeld 3 sit is jy oop vir kritiek en jy is ernstig oor jou fotos. Jy aanvaar dan dit van wie dit af kom en bou daarop. Maar as jy nie n ster het nie is jy wel die beginner en aanvaar meer hulp as kritiek. Dalk is dit nie die beste opsie nie maar ek dink as jy jouself dan nou in n sekere klas plaas kan jy dan jouself opbou en mense kan jou dalk aanraai om jouself n ster meer te gee as jy goed doen in n sekere vlak. Jammer my skryfstyl is dalk nou nie van die mees leesbaarste nie. Maar ek voel presies dieselde as die vorige brief. Ek wil self meer n ernstige mening oor van my fotos he. Dit is nie altyd net negatief nie maar is wel n baie goeie leer kurwe dan.

Groete

n Foto Skool "fan". :) 

Comment by Igno van Niekerk on October 14, 2016 at 6:08am

Hier is 'n voorbeeld van een van ons lede se terugvoer - waarvoor ek baie waardering het.

Ek hoop nie ek praat uit my beurt uit nie en ek hoop van harte die boodskap kom by jou uit. Dis nou nie regte ‘n “issue report” nie maar daar is ‘n paar dinge wat tans nie lekker is in FS nie en ons soek hulp en raad asseblief Ons is tans 2671 lede en vanoggend se foto telling was 71 168 gelaai. Dit klink na ‘n “WOW” situasie maar as daar gekyk word na die aktiewe lede, wat elke dag, of baie gereeld fotos laai, dan is dit maar ‘n baie klein persentasie van die 2671 lede. Dit op sigself is nie ‘n kardinale probleem nie maar hoekom met lede sit wat aansluit, en dan niks verder doen nie? Hulle laai nie fotos nie, hulle krit nie en daar is net geen aksie van hulle kant af nie. Moet daar nie gekyk word na die “dooie” lede en hulle dan verwyder nie? Ek weet nie of die vraag regtig meriete het nie, maar ek weet daar is sosiale platvorms wat van lede verwag om ten minste 1x per maand deel te neem anders word lidmaatskap beëindig.
Die ander faktor wat grensloos pla, en dalk ook soms irriteer, is die foto's wat ooglopend baie foute het en daar kan duidelik gesien word dat die plaser hulp en raad nodig het, maar word as skitterend, briljant, mooi ens bestempel. Ek persoonlik voel dat sulke krits glad nie die skoler help om te verbeter of om hulle bewus te maak van die boustene en elemente wat so belangrik is om van fotografie ‘n sukses te maak nie. Die opleiding is te min en 'n problem. Dis immers ‘n FOTOSKOOL waar ons wil leer om ons gehalte fotografie te verbeter. Ek weet dat almal op fotoskool nie ervare in die tipe van dinge is nie, maar ek voel net as ons nie ‘n daadwerklike poging gaan aanwend om reg te krit nie (dis nou die wat weet hoe.....) dan gee ons as FOTOSKOOL nie regtig hulp nie. Wil jy nie dit oorweeg om in die forum kolom so ‘n paar riglyne te plaas van hoe krits moet gedoen moet word nie?
As daar nie ernstig iets aan gedoen word nie, en dit so aangaan, gaan fotoskool ‘n stywe afdraende loop en dalk later heeltemal ‘n dooie punt bereik. Die vraag wat by baie van ons opkom is “Wil ons Fotoskool sien doodbloei of weer aan die lewe kom?” Ek sien al geruime tyd nie meer van die ervare skolers wat aktief was toe ek in 2014 aangesluit het nie, en ek wonder of die tipe krits nie die rede was hoekom van hulle weg is nie.
As ek soms deur die lede blaai, dan staan ek verstom om te sien hoeveel van ons het wel die kurses by jou en Hennie gedoen, maar daar word nooit fotos van hulle gesien en geen maar geen, krits word gedoen nie. Dit maak hartseer...........Ek haal my hoed vir Hennie af wat so geduldig bly en elke foto op ‘n diplomatiese manier krit. Dis is reg so want ‘n mens wil nie die skolers so die skirk op die lyf jaag dat hulle glad nie weer wil plaas nie. Maar daar is altyd ‘n les te leer uit sy krits uit. Jy, aan die anderkant is weer lekker kwaai en ‘n foto is vir jou reg of verkeerd en klaar. Daarmee het ek ook nie ‘n probleem nie, veral as die skoler al gevorderd is in fotografie. Fotos wat jy vir my persoonlik gekrit het, het my net laat besef dat ek sekere aspekte nog nie reg doen nie of nie reg verstaan nie, en dan gaan ek weer na die konsep kyk en probeer verbeter Die tema fotos werk lekker en ek hou van die laaste een wat “sagte lyne” was. Anita het ‘n hele paar van ons omtrent aan die dink gesit daarmee en dit was eers na ek na haar, Hennie en Willie Schoombie se fotos gekyk het dat ek die idee gekry het. Dit sal dalk goed wees as ons die tema van tyd tot tyd so iets maak. Dinge wat van die boustene van fotografie af kom, lyne, reghoeke,vierkante, sirkels ens en dan ook DLEAB faktore. Sodoende kan daar dan raad en hulp gegee word en skolers kan kennis op doen wat vorentoe net waarde tov hulle fotografie kan bring. Daar kan ook gekyk word na temas tov makro,landskap,blomme, geboue, straat fotografie, plantasies en die lys kan sekerlik aan gaan Nou het ek lekker bors skoongemaak teenoor jou maar daar is heelwat van ons wat nie wil sien dat hierdie platvorm dood loop nie

© 2017   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html