Nuutste korrespondensie - oor kompetisies, kursusse en ander aspekte van fotoskool

Hallo Fotoskolers!

Ek hoop dat elkeen van julle 'n heerlike Junie beleef. Of dit koud is of warm...solank mens se hart mos maar net warm klop maak die seisoen mos nie saak nie. Ek deel graag 'n hele paar dinge wat die laaste tyd my fotoskool-pad gekruis het.

Kompetisie beoordeling:

Ek is tans besig om te beoordeel aan die "Sprakelose Sprankel" foto's, maar het 'n klomp opinies waarmee ek worstel. Eerstens is daar mense wat voel dat baie van ons temafoto-kompetisies gewen word deur foto's wat geredigeer is met Photoshop of enige ander program, en dat dit onregverdig is teenoor mense wat nie Photoshop gebruik nie. Ek wil doodeerlik noem dat daar tydens beoordeling geloer word na aspekte soos interpretasie van die tema ens. Juis om hierdie rede was daar aanvanklik geen pryse nie. Net sommer 'n lekker opdrag. Snaaks, die woord kompetisie klink net veel lekkerder as die woord "huiswerk." Ons temafoto-kompetisies is mos maar eintlik net 'n lekker "huiswerk-opdrag." Ek oorweeg wel om dalk afdelings soos "geredigeerde" en "ongeredigeerde" foto's daar te stel, maar tydsgewys is dit 'n hewige probleem. Glo dit of nie, dit vat nogal tyd om die temafoto-inskrywings te selekteer en te beoordeel. Ons sal egter loer vir 'n lekker oplossing. Ek kry ook dikwels navrae oor hoe die kompetisie beoordeling plaasvind. En vergewe my as ek dit prontuit noem, maar dit is 'n subjektiewe ding. En die wenner wissel van beoordelaar tot beoordelaar. Gaan probeer gerus om jou eie keuse uit te oefen en sien dan wat ander fotoskolers se opinies is...die wen is in die deelname, in die pret van die projek, in die lekkerte daarvan om te sien iemand anders lewer kommentaar op jou foto. Vir een keer is die wenner die deelnemer. Hoekom? Omdat jy 'n kreatiewe uitdaging aanvaar, jou kamera opneem en die proses geniet. Moet dit nooit vergeet nie.

Leaderboards:

Daar was ook onlangs 'n baie interessante en gewaardeerde debat oor die Leaderboards onstaan. Baie dankie hiervoor Stephen, want ek het nooit besef hoe die Leaderboards interpreteer kan word nie. Hierdie leaderboards is eintlik niksseggend. Dit noem bloot wie redelik gereeld op fotoskool is, en watter foto's gewild is. Ek dink mens is soms verward omdat daar baie webwerwe is waar mense vir foto's kan stem en die gewildste dan dikwels wen. Fotoskool se doel is om vir almal iets van fotografie te laat leer. Sommiges leer deur die kommentaar wat op hulle foto's gelewer word, ander is skaam en leer eerder deur die kommentaar wat op ander se foto's gelewer word. Die hoofdoel is om fotografie op 'n prettige en informele manier te laat leer. Ek is egter baie dankbaar oor die blog wat gedeel is oor hierdie kwessie, want ek glo dat fotografie nie gaan oor hoeveel mense vir jou stem nie, maar of jy jou eie stem vind deur die foto wat jy neem. Dit is immers waaroor fotografie gaan - om jou stem te gee aan dit wat jy sien... dink gerus daaroor.

Kostelose geleenthede:

Op fotoskool probeer ons ook om met industrie-gebeure op datum te bly en mense in te lig daarvan. Julle sal sien dat Adobe en Nikon besig is met kostelose werkswinkels in Kaapstad, johannesburg, Bloemfontein en Durban. Probeer gerus hierdie geleenthede bywoon. Dit gaan elke eerste Woensdag van die maand tussen 10:00 en 12:00 voormiddag wees. Die inligting is in een van die nuwe blogs op fotoskool. Ek weet baie mense werk, maar ek glo daar is 'n paar studente en afgetredenes, en selfs mense met opgehoopte verlof wat dalk van hierdie geleentheid wil gebruik maak. Kyk gerus uit vir ander fotoskolers wanneer julle gaan. Dit is vir my heerlik om in verskillende dele van die land fotoskolers te onmoet. (Die ergste is dat ek hulle foto's beter ken as wat ek hulle ken :-)) Fotoskool self probeer om 'n kostelose leerskool te wees. Juis daarom die verskeidenheid blogs (tans meer as 300), sowel as die kostelose GIMP opleiding. Loer ook gerus na die TAB oor LEERSAME webwerwe, julle sal verbaas wees oor die hoeveelheid inligting daar beskikbaar.

Kursusse ens:

As julle kursusse aanbied, of weet van kursusse, kom laai dit gerus as EVENTS op fotoskool. Ons help graag met die bemarking van julle kursusse.
Ons bied ook op aanvraag kursusse in ander dorpe & stede aan. Hennie se uitstappies na verskillende dele van die land is reeds vol bespreek, en ek glo dat die lede wat dit gaan bywoon dit baie gaan geniet.

Die Photoshop opleidingsDVD's is baie gewild, en ek waardeer die terugvoer. Onthou altyd dat, indien dit nie vir jou werk nie, jy jou geld kan terugvra. Die doel is nie om jou te frustreer nie, maar om jou te help leer. Vir meer oor die DVD's, loer gerus onder die tab DVD OPLEIDING bo aan die fotoskool blad.

E-posse en ander navrae:

Ek ontvang gereeld e-posse en telefoonoproepe van fotoskolers wat inligting versoek oor kameras wat hulle wil koop, sagteware ens. Ek probeer om te antwoord so vinnig as wat ek kan, maar soms verloop 'n aantal dae sonder dat ek kans kry om te reageer. Ek glo julle verstaan. Vir die vinnigste terugvoer is 'n GESPREK op fotoskool die vinnigste uitweg - daar is dikwels ander fotoskolers wat vinnig kan help met antwoorde. Soos ek genoem het, ek gee nie om om te help nie, en dit bly 'n voorreg, mens kry dalk net iewers anders vinniger hulp :-) Daar is ook mense soos Jackie by Artic Digital in Bloemfontein wat altyd ongelooflik gaaf en behulpsaam is. Jackie is seker een van die beste fotografie-verkoopspersone in die land. Moenie aarsel om met haar te gesels nie.

Nou ja, vir eers hoop ek dat 'n paar dingetjies bietjie helderder is! Kom lewer gerus kommentaar en deel jou idees by fotoskool!

Groete

Igno

Views: 141

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

© 2018   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html