My weergawe van die gebeure en ook hoe dit gekom het dat Igno amper huis toe geloop het ..

...by die panne aangekom wonder ek toe ook of ons nie nie maar by die huis moes gebly het nie. Ons het net vantevore van die CPS kongres van Maselspoort teruggekom en was effens tam.

Dit lyk maar kaal.. Ons parkeer toe maar en haal die kamerasakke stadig uit..ons is mos nou hier.

Ons begin rondloop al hier om die dammetjies en mik orals maar kry nie veel nie.

Intussen kom die eienaar ook daar aan en deel ons mee dat hy moet ry en wil graag die hekke sluit. Ons moed sak so effens want ons het nog eintlik ..niks. Met gemaakte entoesiasme begin ons vertel dat ons graag alles wil fotografeer en ook graag wil bly tot die son sak. Trots ruk hy toe sy selfoon uit met sy eie fotos van die werkers wat sout bymekaarskraap. Dit is juis Igno en die eienaar se skaduwees in die dammetjie bo.


En ons kry weer toestemming en instruksies oor die hekke en slotte

Later dwaal ons maar na die pan se windpompe en sien darem so paar lyne van afgestorwenes

Ek probeer ook iets uit 'n ander hoek

Dit lyk nou nogal na iets wat beter dae geken het

Ek sien iets raak waarvan Rudi sou gehou het .. 'n windpomp sonder sy kop en wonder wat ek hiervan kan maak. Miskien kan ek 'n foto boontoe neem vir iets anders en duik sommer onder die windpomp in. Ek dink Marietjie het my hier afgeneem. Sy het die manier om my op my onvleiendste af te neem

Dis dalk ook iets met mooi lyne wat dalk 'n "Arty" foto sou kan maak ..

Ek is nog nie te gelukkig met wat ek gekry het nie en sien Marietjie doer in die verte waar sy gras-vlasse of so iets raakgesien het en wonder of ek nie dalk soontoe moet dwaal nie. Igno is steeds by die dammetjies besig.

Die son beweeg agter die wolke in en en skielik raak die lig mooi. Igno dwaal nader en ek klim die windpomp soos "Takoeza" vir iets beter. My hande is vol olie en Igno offer kordaat dat ek my hande aan sy broek kan afvee want niemand het 'n "tissue" naby nie. Ek loer hom eers effe vreemd aan maar hy offer weer sy broek ... en vee my hande maar heel bekommerd hier rondom sy knieë af.

Igno val daarna plat neer soos iemand wat wil "Lepird khrol" soos in die army dae en neem fotos van die windpomp. Toe hy opstaan was hy 'n salpeter moddermassa .. sy elmboë en knieë was pikswart en ek begin wonder hoe ek hom kan toelaat om so in die kar te klim !

Ek dink toe nogal terug aan die poppie episode.. en of Igno die huis sal haal as hy loop. Hy het sterk tekkies aangehad wat hy blykbaar net vir Fotografie gekoop het. Ek dink hy het iets voorsien..

Ek neem toe maar nog 'n foto en sê niks

Die son begin vinnig sak en ons pak toe maar op. Igno besef hier is fout en begin homself afskud van al die modder. Gelukkig kom die sout-modder redelik maklik af maar die kolle bly sit. Ons skoene is vol modder en ons is almal so 'n duim of wat langer as 'n paar uur gelede.

Terug by die kar neem ek toe die laaste foto met die mooi lig

Die foto het my nogal laat dink aan die kontras tussen die dooie deel voor en die lewende agter.

Die lesse soos Igno in sy blog genoem het is

  • dat daar is altyd iets om af te neem.
  • Indien moontlik, wag vir mooi lig en
  • kyk vir lyne en patrone.
  • Op Photoshop kan mens dalk nog verder verbeter

  • en wees net versigtig as iemand sy broek vir jou offer ..

Marietjie se waarnemings aan die buitewyke van die Dooie Pan ..

Samesyn met mede fotograwe is baie lekker. Almal is immers daar vir dieselfde doel. Ons het almal die area se stil atmosfeer baie geniet en nogal gevoel ons het so bietjie uit die samelewing ontsnap vir die middag

Groete

Charles en Marietjie

Views: 744

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Charles Whitehead on April 24, 2012 at 1:33pm

Dankie Marietjie vir die kommentaar. Ek was nogal so effens in die knyp gewees :-)

Ook dankie Marita

Comment by Marietjie Whitehead on April 24, 2012 at 9:55am

Charlie, dankie vir hierdie blog met sy lesse en lekker lag.  Aangesien ek aan die oorkant van die pan besig was om my te verwonder aan die "backlighting" op die gras-vlasse, was ek nie daarvan bewus dat jy besig was om te worstel met twee groot probleme nie (die oliebesmeerde hande en die salpeter moddermassa waarmee jy nie geweet het wat om te doen nie) !

Comment by Charles Whitehead on April 23, 2012 at 10:31pm

Lian

Baie dankie vir die kommentaar. Die geheim met sulke omstandighede is dat mens maar jou oë moet oophou en moontlikhede raaksien. Hulle praat mos van 'n geoefende oog vir fotos en dis nogal waar. Sommige mense kry dit makliker reg as ander maar ek moet myself maar kort-kort daaraan herinner !

Comment by Lian van den Heever on April 23, 2012 at 5:40pm

Charles, baie dankie vir hierdie een. Ek het ook al in Walter Sisulu Botaniese Tuin geloop en nie 'n enkele prentjie gesien nie , (nadat ek die vorige week nie kon ophou om prentjies te sien nie) . Maar dan skielik duik die prentjies een na die ander op . Dis dan wanneer mede fotograwe se samesyn jou help om hulle te sien .  Die foto's is BAIE MOOI !! 

Comment by Charles Whitehead on April 22, 2012 at 2:20pm

Dankie Gerhard en Joanette

Comment by Charles Whitehead on April 21, 2012 at 10:38pm

Dankie vir die kommentaar Tillie en Martie - die ondervinding was heerlik gewees

Comment by Martie Venter on April 21, 2012 at 9:35pm

Dankie vir 'n baie onderhoudende blog, Charles - ek het dit geniet om jou kan van die verhaal ook te hoor :). Dit klink asof julle 'n heerlike fotografie-avontuur meegemaak het!

Comment by Tillie Beaton on April 21, 2012 at 9:34pm

Ai Charles en Igno, vandag het ek probeer om my eie blog te skryf, maar ek hoop ek kan ook die komiese in elke situasie uitbeeld in foto's en woord soos wat julle dit doen.  Ek het julle twee - of eintlik drie - weergawes (en heelwast verskillend, verskoon om te sê), baie geniet.  Soos Charles sê, dit is so lekker om saam met ander fotograwe te gaan foto's neem, en elke een se interpretasie is so anders.  Ek geniet julle blogs baie en hoop ek kan in die toekoms sulke lekker blogs skryf.  Maar ek leer by my mentors, so "watch this space".  Julle elkeen se interpretasies het my gewys dat elkeen sy eie manier het om na dinge te kyk, en maak nie saak of ons dieselfde situasie afneem nie, ons elkeen doen dit op ons eie manier.  Ek het jul altwee se blogs en foto's geniet, en hoop om in die toekoms nog baie te sien!

Comment by Charles Whitehead on April 21, 2012 at 6:54pm

Igno - ek is bly jy het 'n goeie prys vir die broek gekry. Nou is ek bly ek het my hande hier rondom jou knieë afgevee ..

Dankie Jimmy vir die kommentaar

Comment by Igno van Niekerk on April 21, 2012 at 5:00pm

Hallo Charles en Marietjie. Uitstekende blog! Charles, ek wou eintlik net jou vingerafdrukke op my broek kry. Ek het die broek daarna op 'n veiling verkoop en dit het beter gevaar as die trui wat Bryce Lawrence verkoop het (die ene wat hy gedra het in die wedstryd tussen die Springbokke en Australie in die wereldbeker)!

Baie dankie vir die blog en om ook deur julle kameras na die gebeure te kan kyk!

© 2017   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html