Portrette - Deel 1 - Dinge om op te let: Agtergrond...

Portretfoto's! 'n Paar jaar gelede was dit 'n stokstywe en formele geleentheid. Ongemaklike gesinne het in hulle warmste en pragtigste klere die ligte van foto-ateljees trotseer om " die familieportret" te laat neem. Ook individue het op klein stoeltjies gesit en wag tot die fotograaf "cheese" uitroep, en dan met 'n soms baberagtige glimlag onsself verewig vir die nageslag!

Dankie tog vir die nuwe digitale generasie! Hoewel die jonges portretfotografie soms 'n bietjie skrikwekkend maak,deur met uitgestrekte arms die kamera na hulleself te draai (dikwels sommer drie gefotografeerdes langs mekaar), en die oomblik te verewig.

Net ingeval daar van julle is wat dink dat ek iets teen formele portrette het - GLAD NIE! Ek glo daar is ruimte vir allerhande tipes portrette. Ferm, vrolik, vriendelike, vieserig en vuisvoos. In die volgende paar blog-inskrywings gaan ek so 'n bietjie gesels oor portrette, en dinge wat mens kan onthou wanneer jy portrette afneem.

Deesdae is portrette nie net in ateljees nie, maar ook in die buitelig. Op een van my fotografiekursusse het Karla ons vergesel, en was die idee om net te toets hoe 'n reflektor die lig wat in direkte son 'n skadu onder mens se oogkaste gooi, kan neutraliseer:

Nou, die idee was (behalwe die beligting) om ook die redelike deurmekaar agtergrond met 'n groot lensopening te neutraliseer. Dit was 'n helder dag, en die probleem was dus, dat hoe groter die lensopening was, hoe meer het die agtergrond weggeraak, maar hoe meer oorbelig was die foto. Dit was op daardie oomblik dat ek besef het dat die foto nie noodwendig gaan werk nie. Die agtergrond was net te besig. In baie gevalle sal mens na 'n ander agtergrond gaan soek, maar in hierdie geval het ek skielik gewonder (wonder is nogal iets wat mens baie keer agter die kamera doen): Wat as ons gebruik maak van dit wat ons in die agtergrond het? Met ander woorde, ons stap nader aan die agtergrond en verminder die "deurmekaargeit" (ek wou al van my graad 1 jaar af die woord "deurmekaargeit" in 'n sin gebruik, EN daar breek die oomblik toe nou aan!!) deur Karla net voor een van die agtergrondelemente te laat staan...

Die resultaat was 'n baie "skoner" foto:

Onthou gerus dat wanneer jou lensopening jou nie kan red nie, jou voete wel kan. Iets wat van veraf deurmekaar lyk, kan van nader as agtergrond gebruik word.

Veral in portretfotografie is dit nodig dat so min as moontlik aandag van die model afgetrek moet word. Ons kry wel soms "omgewingsportrette," soos wanneer ons iemand by hulle werk afneem, maar in daardie geval vertel die omgewing meer van die model, en "steel" dit nie die aandag nie!

Voete is handige toerusting! Moet hulle krag nie lig ag nie...

Views: 89

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

© 2020   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html