Stap vir stap - Deel 10 - 10 Dinge om te onthou

10 is 'n wonderlike getal.
Dit bou selfbeeld.
Regtig.
Dink maar - as mens 10 uit 10 kry, dan voel mens so goed. En, al is dit dieselfde as 10/10, klink 100% nie so goed nie.
Party sal nou dink ek verkoop knolle vir sitroene. Maar dink daaroor. Daai fliek met Bo Derek in die hoofrol was nie 100 nie. Dit was 10.
Nou wat het dit met hierdie les te doen?
Ek is self nie seker nie, behalwe dat ek gedink het omdat dit die 10e les is, wil ek 10 baie belangrike dinge deel. Dit onderbreek bietjie die geheel, maar ek dink dis baie belangrik om aan te dink.
So hier gaan ons:

1) Beskerm jou kamera en lense
Wanneer jy jou kamera gebruik, hou dit verkieslik met die "strappie" om jou nek, (tensy dit op 'n driepoot is - dan kan dit nogal snaaks lyk as jy jouself aan die driepoot verstrengel :-) 'n Kamera wat val of stamp kry baie seerder as wat ons dink.

2) Beskerm jou lens!
As jy lense het wat kan afhaal, maak doodseker jy het 'n filter op wat dit beskerm (UV filter of 'n sg Polarizer). Veral die UV filter se doel is om jou lens se glas teen krappe ens te beskerm. Eerder 'n krap op 'n goedkoop filter as op 'n duur lens - tensy jy Donald Trump se boetie is. (Indien wel, baie sterkte - en ek hoop jy het die ander kant van die familie se hare ge-erf).

3) Maak Backups. Ek kan dit nie genoeg se nie - moenie net een stel van elke foto he nie (en onthou CD's en DVD's kan krap, so probeer 'n eksterne hardeskyf as backup of rugsteun spasie gebruik. Eksterne hardeskywe raak al goedkoper. Jy kry nou al 1 TB (terrabyte) skywe vir minder as R1000.

4) Leer speel-speel -
Toets jou kamera se verstellings. Dit kos niks. Onthou jy het 'n kamera gekoop omdat jy kreatief wil wees, nie omdat jy gefrustreerd wil wees nie. So speel.

5) Hou foto-aande
In die ou dae (ai toggie - sommige van julle sal weet waarvan ek praat, ander sal dink ek het nie al my varkies op hok nie) het ons so een keer 'n kwartaal skuifies (ja, die spelling is reg - hulle het ge-skuif in magasyne in en uit) gekyk as gesin. Dit was beter as Dallas en Dynasty. Ons neem die foto's om ons herinneringe te deel, nie om hulle op 'n hardeskyf te stoor nie.

6) Maak 'n "folder" met jou beste foto's
Maak een folder met jou beste foto's. Kyk gereeld daarna. Moet dit nooit kritiseer nie. Geniet dit net. Ons het die reg om ons fotografie kritiekloos te geniet. Selfs al is die foto nie so goed nie, maar dis 'n wonderlike herinnering - moet nooit vergeet dat dit is waaroor dit gaan nie.

7) "Chimp"
As jy foto's neem, kyk op die LCD paneel of die lig, fokus ens werk (veral as jy in nuwe omstandighede kom). Moenie aanhoudend kyk nie, maar in die begin is dit handig. MAAR meer nog - daar is op die meeste digitale kameras 'n klein vergrootglasie (ek weet - dis oulik ne - klein vergrootglasie). Nie 'n regte ene nie - 'n prentjie... Gebruik dit om te kyk of jy die persoon/model/troeteldier se oog in fokus het deur vinnig op die vergrootglasie te kyk. Jy hoef dit nie altyd te doen nie, maar in die begin van 'n sessie kan dit jou red.

8) Without card - off
Op baie kameras is daar 'n nare verstelling. Die vermoede is dat dit deur een van Idi Amin se generaals ontwerp is om die wereldorde te versteur. Dit is dikwels onder een van die "menus" en laat jou toe om foto's te neem as daar nie 'n geheuekaart in die kamera is nie.
Dis dodelik.
Dink hoe dit sal wees as jy 'n troue afneem sonder 'n kaart. Erg. Maar nie so erg soos om te weet dat jy Idi Amin se generaal eintlik ondersteun het nie. Toets gerus of jou kamera steeds aanhou neem, selfs al het jy die kaart uitgehaal. As dit gebeur - fynkam jou verstellinge en sit dit af. Dis kannibalisties.

9) Hou jou kamera reg vas.
Mik en druk kameras en selfone het ons verkeerd leer staan. As jy 'n digitale SLR het, onthou dat foto's op die klein LCD paneel dikwels lyk of hulle in fokus is, maar nie noodwendig is nie. 'n Groot sondebok in terme van fokus is kameras wat verkeerd vasgehou word.

10) Laai jou batterye gereeld.
So ook jou kamera s'n.
:-)

Views: 86

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Annatjie on February 7, 2010 at 5:35pm
Dankie vir hierdie reeks lesse Igno! Dit het my 'n goeie agtergrond gegee vir die fotokursus die naweek; wat ek net so baie geniet het! Dit was regtig leersaam en ek het dinge van my kamera geleer wat ek nooit self sou uitvind of toets nie. Ek is mal oor jou aanbieding: die kursus; Fotoskool, die blogs en videos ... ek dink dis die toekoms van opleiding! Ek volg nou die lanskapvideos met belangstelling. Wat ek besef het uit jou "lesse" sover is dat dit nie net gaan oor die tegniese aspekte van 'n "goeie foto" nie, maar hoeveel ek dit geniet; die storie daaragter en 'n bonus is kosbare lewenslesse wat mens kan leer.

© 2019   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html