Stap vir Stap - Deel 9 Filmspoed sonder films

En daar sit jy.
Net omdat jy 'n kamera gekoop het...
Nou verwag jou langverlore niggie dat jy haar tweedebeste vriendin se derde troue moet afneem.
"Jy het mos nou die kamera - en ja, al die jare al so goeie oog vir foto's."
Een probleem.
Toe jy die eerste foto in die halfdonker kerk neem gaan die flits (flash) af, en die predikant begin onbeheersd hakkel. Twee babas begin ook troosteloos huil.
Jy dink aan wat jy tot nou toe geleer het: Diepte van veld, sluiterspoed - alles.
Maar hoe gaan jy nou foto's neem sonder om die flits te laat afgaan. En sonder dat die foto's onderbelig is. Dis net soos met daardie waterval - toe was die lig te helder - nou is dit sterk skemer in hierdie kerk.
"Is dit dan altyd te lig of te donker?"
Jy dink oor Prozac.
En jy weet dis nie die oplossing nie - nie hierdie keer nie!
En nou kan ek met jou die "oplossing" deel, noudat jy gereed voel ---
Onthou net altyd - hierdie ene is handig vir noodgevalle, maar moet omsigtig hanteer word (amper soos my skoonma).
ISO.
Yip! Op jou kamera is daar 'n ISO verstelling.
Hoewel ons nie meer filmspoed kan stel nie, het ISO ten doel om jou kamera in staat te stel om onder "donkerige omstandighede" steeds foto's te neem - sonder dat die atmosfeer verlore gaan (danksy die helder flits), of dat jou sluiterspoed so stadig moet wees dat alles een groot deurmekaar "blur" is.
Hoe groter die ISO gestel is, hoe minder lig het die kamera nodig. EN in vandag is daar digitale SLR kameras (kameras waarvan jy die lense kan wissel) wat ongelooflike dinge kan doen in die donker! Aitsa.
Onder gewone omstandighede kan mens reken op 'n ISO van 100 of 200. Maar in swak lig (veral sonder 'n driepoot, en met bewegende figure wat nie mag "blur" nie) kan mens die ISO heelwat groter stel.
Hier is die voorbeeld:
Onthou die kerk en die hakkelende dominees, ja, ook die skreeuende babas. Wel - dis in hierdie omstandighede dat mens die ISO kan opstel na iets soos 800 (soms selfs meer). Skielik kan jy steeds teen 'n vinnige sluiterspoed (1/60 of korter) jou foto's neem.
Tog - daar is 'n gevaar:
Hoe groter die ISO, hoe meer digitale "kolletjies" oftewel "noise" is op jou foto. Dis daardie klein vlokkie kolletjies wat soos grein-korreltjies lyk. (ag wat 'n pragtige woord: grein-korreltjies - laat mens dink aan snap-crackle-pop).
Dus wees gewaarsku - omdat jou kamera help om lig te "skep" is die moontlike "geraas" die prys wat jy dalk sal moet betaal.
Tog, dit kan jou red van huilende dominees en hakkelende kindertjies - of andersom.
NB: Waarskuwing - onthou net altyd weer om die ISO na die laagste moontlike opsie te verstel as jy deur jou krisis is - anders skep jy dalk jou eie krisis volgende keer op 'n pragtige sonnige dag!
En onthou - soos wat jy in een van die vorige lesse geleer het - ZERO jou kamera - voor elke sessie!
Gaan speel gerus vanaand in die skemer met jou ISO -

Views: 92

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

© 2019   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html