Troufoto's en Reën: Deel 6 - Op die plaas

Uiteindelik is ons toe op die plaas! Nou moet ek darem byvoeg dat die troukar intussen gebreek het. So toe ek en Arnè op die plaas aankom was die bruidspaar nog nie daar nie! Intussen was die lig besig om vinnig te verminder. Toe die bruidspaar opdaag het ons hulle sommer by die ingangspad ingewag. Op hierdie foto lyk dit nog redelik lig, maar ek was reeds besig om die ISO bietjie te verhoog...

Die bruidspaar se huis is ook op die plaas, en dit was ondenkbaar om nie 'n foto van die egpaar voor hulle nuwe tuiste te neem nie:

Aanvanklik was die hek toe, maar deur net die hek effe oop te maak skep mens sommer die idee van gasvryheid, en dat die "kyker" van die foto ingenooi word in die foto.

Nou, soos julle kan dink was die bruidspaar teen hierdie tyd al nat en gedaan... En die onthaal het gewag. So, vir alle praktiese doeleindes was die "formele" fotosessie op 'n einde.

Tydens die onthaal sien ons 'n klompie kindertjies op die stoor se muur speel - en toe ek die volgende foto neem, besef ek dat die lig nou ongelooflik is:

En met 'n tikkie huiwering sit ek toe af na die bruidspaar om hulle te vra vir nog net 'n paar foto's. Gelukkig was die foto van die kindertjies op die LCD paneel genoeg om hulle te oortuig (en het hulle darem al iets te ete en te drinke gehad).

Met die blou lug as agtergrond was die volgende foto vir my 'n heerlike opsomming van 'n pragtige troue tydens 'n reënerige dag in die Vrystaat:

En darem so 'n laaste foto om te wys dat, ten spyte van die reën, die konkas heerlik kon brand, en die partytjie nou in volle gang was...

Nou ja, ek hoop dat julle hierdie reeks blogs oor troufoto's in reënweer geniet het. Ek hoop ook dat julle daaruit iets kon leer.

Vir my was die belangrikste les dalk dit wat ek in die eerste blog genoem het: Maak seker jy as fotograaf gaan met 'n positiewe houding, maak seker jy geniet dit om die foto's te neem, en ja - hoop vir slegte weer wat net op die regte tyd opklaar!

Groete

Igno

 

Views: 388

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

© 2020   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html