Die snaakste van die lewe is dat ons onvoorwaardelik wéét dat áls wat "is", sy eie bestaansiklus het.
Die érgste is dat ons nie ons kennis as féit wil aanvaar nie.
Twee jaar gelede het ek dit só, hier by Fotoskool, "belei" dat Uncle se aardse paadjie sy lááste kronkelpad ingegaan het.
Maar hou mens tred met 'n ánder se wíl om te lewe?
Twee jaar nadat ek uit Warmbad is, 'n jaar en nege maande nadat ons hom na my toe kon laat verhuis, het die onvermydelike gebeur.
Uncle is op 31 Oktober, om 4 uur die oggend in die Kalafonghospitaal dood nadat sy niere gaan staan het.
Hy sou op 2 Februarie 87 jaar oud geword het.
Uncle se gesondheid het sedert Julie vinnig begin versleg.
Hy het gegló hy ly aan hoë bloeddruk en het op sy eie Disprins én Grandpa's begin drink. Ánder het óók allerhande medikasie begin geen.
Één oggend, báie vroeg, het hy by my opgedaag, ons het toe so 800 meter van mekaar gebly. Ek is opsluit na sy plekkie geparadeer.
Daar aangekom trek hy sy een skoen en kous uit, die broekspyp op. Water het letterlik geloop uit die swere op sy bene. Dit was bloedrooi en erg ontsteek.
Hospitaal toe. Ongevalle.
Dáár het die dokters kop gekrap.
Die hele dag het ons daar gesit. Die hele nag en nog 'n halwe dag..... Toe, na Dr Google én mediese handboeke, fotos wat geneem en na ánder dokters en hospitale gestuur is, is beslis Uncle ly aan Steven Johnson-sindroom. Ek het tyd spandeer met die medici om te verstaan en weet wat ek mág en nié mag nie. In geen onseker terme is vir my gesê géén vorm van medikasie nie. Nie eers multi-viramines nie aangesien hul uitgebreide toetse moet doen om vas te stel waarvoor hy allergies is.
In die hospitaal, volgens die personeel, het Uncle die plek omgekeer. Hy is laat gaan, met báie voorgeskrewe medikasie. Drie soorte antibiotika en nog ander.
Die wat hom gaan haal het, het nie geluister nie.
Die pille is verkeerd gebruik en Uncle, met sy Alzheimers het sy eie opinie gehad oor wát die medikasie was. Geglo dis waterpeil lê..... En allerhande ánder goed wat ek nie glo al ooit gemaak is nie.
Niémand het vir my gesê dat hy binne 'n week terug moes wees indien sy toestand nie verbeter nie.
Daar ten spyt was dit spoedig duidelik dat sy gesondheid én geheue vinnig agteruit gegaan het.
Om hom tóé te kry om te bad, hospitaal toe te gaan was 'n saak van onmoontlikheid.
Hoe méér konflik tussen ons, hoe méér het ander weer pille aangedra en is ek toenemend uitgeskel as "te sleg om na hom om te sien".
Ek was letterlik aangeval, selfs in die teenwoordigheid van die publiek.
Noú, mense wat my ken sal vertel ek baklei nie. Draai net om en loop, maar sal môre wéér probeer.
Maar as my koppie so skuins links vórentoe sak...... dan het ek my besluit geneem.
Ek was "klaar" (versorging) van Uncle. "Laat húl wat kritiseer dan oorneem...".
Tog het ek daagliks by hom gaan kuier. By Auntie wie se gesig sélf misvormd geraak het van een of ander siekte...... Geld vir 'n veearts was daar nie. My een vriend sou haar met 'n inspuiting uitsit. (Hy boer met verskeie katsoorte.)
Iemand het vir Uncle vertel. Weereens was ek vyand nommer alles.
In hul alwysheid het hul vir Uncle na 'n plakkerskamp naby aan sy plek gevat. Boots and all.
Havoc.
Weer, en weer het dit so aangegaan.
Al méér het hul onttrek van "geval Uncle".
My koppie het van links op die skouer, saam met Uncle se omstandighede, wipplank gery.
Hy het báie sieker geword.... Die sindroom het van sy voete en enkels na sy lieste versprei. Water het later uit sy kop gesuipel asof 'n vlak fontein. En is uiteindelik na sy ingewande.
Ek het die geleentheid gekry om na Pretoria te verhuis. Iets wat vir mý in alle opsigte béter is.
Die laaste Vrydag van Augustus was ek by hom. Siek soos wat hy was, het ons gesels soos van ouds . Ek het belowe om Saterdag wanneer ek van die dorp af kom vir hom piesangs te bring.
Daar aangekom, was Uncle "net weg". Ál sy goed was nog daar, behalwe Auntie.
Sondag het ek gehoor hy is "op 'n ander plek geplaas",...... En Auntie is met 'n klip doodgeslaan.
Dit het 'n hele tydjie geneem voor ek die waarheid uitgevind het...... Hy was iewers naby Cullinan geplaas.. Maar ek verstaan noú dit is eerder in die Raytondistrik.
Met sy opname daar is hy die eerste keer na Kalafong gestuur. Steven Johsonsindroom is bevestig. So ook die Alzheimers...... Iets waaroor ek érg aangeval is want "you abuse the old man by pretending that he is insane".
Daar, in die hospitaal, is sy foon gesteel.
Ek het geld gestuur vir 'n nuwe, bederfgoedjies.
Áltyd was daar 'n verskoning oor hoékom dit nog nie gekoop is nie.
Één keer kón ek met hom praat. Hy het gehuil. Gevra ek moet hom kom haal.
Vele gesprekke met bestuur..... Sê die man die oggend van die 31ste vir my dat Uncle álle vroue as Engela begin aanspreek het. Vir hul dánkie gesê het .... Húl (ons/ek) het glo vir hom meer gedoen as álle ander mense, sedert sy ma se dood.
Noú moet ek my kop optel en aangaan. Moet ek myself oortuig dat ek régtig áls binne my vermoë vir hom gedoen het.
Noú wroeg ek met 'n kop wat wánkel,...... Geld vir 'n begrafnis wás/is daar nie.
Sy droom was om saam met Gerry (opgestopte kat) verás te word. Dat ek na Auntie sou kyk tot háár einde en dat sy dan óók veras moes word..... Hul as moes daar in die Blyderivier se wêreld gestrooi word.
Die absolute teendeel is egter waar.
Studente van Medunsa gaan hopelik verby "die kaartjie aan die toon" kyk en vir oulaas respek bewys aan die mens wat ek in die winter onder bedmatjies gevind slaap het. Die énigste hitte behalwe die sagte lyf van Auntie.
Ek hoop hul leer van Steven Johnsonsindroom, die effek van Alzheimers.
Sal besef hoe báie jare se swaarkry die liggaam aftakel.
Maar ek weet onvoorwaardelik, al kón ek nóóit die konsep van die "Trinity" by hom tuisbring nie, sý Creator vir hom sal verduidelik.... Dit wat hy
hy die laaste jare as newels ervaar het, éintlik maar sluiers van genade is wat óm hom gehang het.
Soos die sluier van 'n bruid oppad na haar bruidegom.

Dankie aan 'n ieder en elk vir jul omvattende reis saam met ons. Dankie Riaan vir die raffle, die geld ... Ek moet éérs die waarheid by Kaïro gaan sien voor ek my finale besluit neem oor die bottel se toekoms.

Dankie Elna, Gerrie en weer Riaan dat jul my treurmares verdra het. 

Blaai gerus deur die album:Uncle .... En gaan en wees dankbaar.

Gaan leef. 

  • Soos hy éintlik graag nog wou. (Het gemik vir 110!) 

Views: 16

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by Gerrie Lambrechts on November 19, 2018 at 8:47am

Ai Engela ons is dankbaar dat ons hier op FotoSkool vir Uncle deur jou leer ken het. Dat jy die pad met hom gestap het, sal nie by die Here verby gaan nie.  Ons is dankbaar dat hy nou rus en jy met vrede in jou hart jou lewenspad nou kan stap, na jouself omsien en vir jou die lewe aangenaam kan maak. Jy is enig in jou soort. Mooi lewenspad vir jou.  Gerrie

Comment by Tersia Weitsz on November 13, 2018 at 5:03pm

Dankie vir die deel Engela en baie sterkte

© 2018   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html