Net na Benno se verjaardag in Januarie sien ek en Arne die advertensie vir die Jack Russell bastertjies. Benno was lankal vol planne vir sy eie hondjie, en op die ingewing van die oomblik bel ons die nommer. 'n Paar ure later word Survivor deel van ons gesin. Sy naam is Survivor, word ons vertel, "omdat hy die aand van sy geboorte buite vergeet is, en eers die volgende dag daar gekry is."

En so het Survivor deel van ons gesin geword!

Dit was onmiddellik duidelik dat Benno en Survivor onafskeidbaar sou word. Toe ons weer kyk slaap Survivor in die aande by Benno, en ja, hy ry selfs saam om Benno en Anienie by die skool te gaan oplaai. Die basterbrak met sy intelligente ogies raak so 'n deel van die gesin dat hy selfs saamry vir 'n naweek Bethlehem toe om by my sussie hulle te gaan kuier.

En daardie naweek is seker een van die heerlikste naweke in brak-se-kind se bestaan.  Op die plaas het hy elke oomblik geniet. Hy het rondgehardloop, gerol, gespeel. Survivor het geen probleem gehad om die natuur te geniet nie. Vir hom was daar geen vervelige oomblik nie:

Daar was wel oomblikke dat Survivor gewys het dat hy die hart van 'n leeu het. Veral toe iemand die "gevaarlike beeste" uit sy basie se pad moes kry. Hy het nie 'n oomblik teruggedeins nie...

Maar dit was ook nie net om die halsbandjie nie, dit het ook oor die hondjie gegaan. Jy sien, toe ons in Bethlehem kom het Survivor die liefde van sy lewe ontmoet. My sussie se Toyota-agtige hondjie, Roxy! Ten spyte van wat almal van Roxy se tande te vertelle gehad het, was dit liefde met die eerste opslag... Hier is Roxy! (Kan julle verstaan waarom dit "puppy-love" met die eerste oogopslag was?)

 

Wat 'n heerlike naweek! Survivor het die hele pad terug in die motor soos 'n baba geslaap. Hy was soos 'n kind wat 'n heerlike kersvakansie gehad het.

En die dankbaarste oor die naweek?

Ek.

Daardie naweek het ek sommer lekker gesinsfoto's geneem. Niks spesiaal nie. Net die gewone oomblikke.

En eergister,terwyl ek in Johannesburg is, bel die buurman.

Survivor het deur die heining gehardloop en is deur die buurman se hond doodgebyt.

Trane het in ons huis gevloei soos Oos-Vrystaatse driffies in die somer.

En toe die vraag.

"Pappa, het ons foto's van Survivor?"

Dankie tog vir een naweek se rekordfoto's. Dankie tog dat ek net na landskappe of natuurtonele gesoek het nie. Dankie tog vir herinneringe wat vasgevang is.

Ja, selfs 'n gesinsfoto saam met Survivor wat my sussie aangedring het om te neem:

So, dalk is die belangrikste les wat ek hierdie week kan deel dat ons nie alleen vir goeie foto's moet soek nie.

Rekord-foto's is die belangrikste foto's wat ons ooit neem.

Groete

Igno

 

RIP Survivor. Ons mis jou.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Views: 402

Comment

You need to be a member of Fotoskool to add comments!

Join Fotoskool

Comment by sonja grobler on May 31, 2012 at 11:05pm

Ai tog dis so swaar om van n dieremaatjie te moet afskeid neem.  Maar elkeen van die vierpotige vriende maak ons lewens spesiaal en betekenisvol.  As die ergste hartseer verby is oorweeg dit om 'n draai by die SPCA in Bloemfontein te maak.  Daar is baie Survivors wat wag vir 'n liefdevolle huisgesin. 

Comment by Charles Whitehead on May 29, 2012 at 8:24am

Storie wat mens met meegevoel lees. Alles waar wat jy hier sê Igno

Comment by Sylvia du Toit on May 27, 2012 at 9:01am

Igno,

 

Dankie vir die deel van hierdie "verhaal".... Foto's is kosbaar.  Wanneer jy reeds 2 kinders verloor het besef jy dit meer.  Jy beleef soveel goeie tye saam met die kyk van ou foto's.....

Comment by Joanette Le Cornu on May 26, 2012 at 4:14pm

Ek is sommer van voor af hardseer. . .ons klein kruising hondjie is Maart doodgery. Sy was soos n kind in die huis. Dankie dat jy dit met ons gedeel het, Igno

Comment by Annemari Coetser on May 26, 2012 at 2:33pm

Dis pragtige foto's, Igno. Ek is jammer dat Survivor so 'n kort tydjie aan Benno en julle ander vreugde kon verskaf. Maar met die foto's wat geneem is, gaan Benno hom darem vir altyd onthou. Met agterna-kennis is die eerste foto ekstra spesiaal.

© 2019   Created by Igno van Niekerk.   Powered by

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service

google-site-verification: google66c860d217920dd7.html